hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 4 Afrikaans 1983 (AFR83)

Salomo se hoofamptenare

1. Salomo was koning oor die hele Israel.

2. Sy hoofamptenare was die volgende:Asarja seun van Sadok was hoëpriester;

3. Eligoref en Agija, seuns van Sisa, was administratiewe beamptes;Josafat seun van Agilud was die hoof uitvoerende beampte;

4. Benaja seun van Jojada was hoof van die leër.Sadok en Abjatar was priesters.

5. Asarja seun van Natan was hoof van die streekbestuurders; Sabud seun van Natan was 'n priester en persoonlike raadgewer van die koning.

6. Agisar was paleisopsigter;Adoniram seun van Abda was in beheer van die dwangarbeid.

Salomo se streekbestuurders

7. Salomo het twaalf streekbestuurders in die hele Israel aangestel met die oog op die onderhoud van die koning en sy hof. Elkeen was verantwoordelik vir een maand per jaar se onderhoud.

8. Hulle name was:Ben-Gur in die Efraimsberge;

9. Ben-Deker in Makas, Saälbim, Bet-Semes en Elon-Bet-Ganan;

10. Ben-Gesed in Arubbot, dit het Soko en die hele Geferstreek ingesluit;

11. Ben-Abinadab in die hele berggebied van Dor; sy vrou was Tafat 'n dogter van Salomo;

12. Baäna seun van Agilud in Taänak en Megiddo en ook in Bet-San wat grens aan Saretan onderkant Jisreël; dit is dus van Bet-San af tot by Abel-Megola en tot anderkant Jokmoam;

13. Ben-Geber in Ramot in Gilead; hierby was ingereken die tentdorpe van Jaïr seun van Manasse in Gilead, en ook die Argobgebied in Basan, sestig groot stede met mure rondom en poortgrendels van brons;

14. Aginadab seun van Iddo in Maganajim;

15. Agimaäs in Naftali; hy was getroud met Basemat, ook 'n dogter van Salomo;

16. Baäna seun van Gusai in Aser en Alot;

17. Josafat seun van Paruag in Issaskar;

18. Simeï seun van Ela in Benjamin;

19. Geber seun van Uri in die Gileadstreek, dit is die vroeëre gebied van die Amoritiese koning Sihon, en van koning Og van Basan; in hierdie hele streek was daar net die een bestuurder.

Voorspoed tydens Salomo se regering

20. Juda en Israel was so baie soos die sand aan die see. Hulle het volop te eet en te drink gehad, en hulle was gelukkig.

21. Salomo het geheers oor al die koninkryke van die Eufraatrivier af tot by die gebied van die Filistyne, dit wil sê tot by die grens van Egipte. Hulle het belasting betaal en was onderhorig aan Salomo solank hy geleef het.

22. Salomo se daaglikse kosvoorrade was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel,

23. tien vetgevoerde beeste, twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe nog takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee.

24. Salomo het geheers oor alles wes van die Eufraatrivier, van Tifsag af tot by Gasa, oor al die konings wes van die Eufraat. Na alle kante toe was daar vrede,

25. en solank Salomo geleef het, het die Judeërs en die Israeliete van Dan af tot by Berseba veilig gewoon, elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit.

26. Salomo het veertig duisend trekperde op stal gehad vir sy strydwaens en ook twaalf duisend ryperde.

27. Die streekbestuurders het elkeen een maand per jaar vir koning Salomo en almal wat van sy tafel af geëet het, van kos voorsien. Hulle het gesorg dat niks ontbreek nie.

28. Hulle het ook die gars en die hooi vir die ryperde en die trekperde gebring op die plekke wat met elkeen gereël was.

Salomo se wysheid

29. God het aan Salomo baie groot wysheid en verstand gegee en insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is.

30. Salomo het meer wysheid gehad as al die ander mense, van die ooste af tot in Egipte.

31. Hy het meer wysheid gehad as enigiemand anders, meer as Etan die Esragiet, en meer as Heman, Kalkol en Darda, seuns van Magol. Sy naam het bekend geraak onder al die nasies in die omtrek.

32. Hy het drie duisend spreuke gemaak en duisend en vyf liedere gedig.

33. Hy het verse gemaak oor bome en plante, van die seders op die Libanon tot die hisop wat uit die mure groei; hy het gedig oor diere, voëls, reptiele en visse.

34. Van oral af het daar mense gekom om na Salomo se wysheid te luister, afgesante van al die konings wat gehoor het dat hy so 'n wyse man is.