hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die besoek van die koningin van Skeba

1. Die koningin van Skeba het gehoor wat van Salomo en die Naam van die Here vertel word en sy het toe self gekom om Salomo met moeilike vrae te toets.

2. Sy het na Jerusalem toe gekom met 'n baie groot gevolg en ook kamele wat belaai was met kosbare kruie en 'n groot hoeveelheid goud en edelstene. Toe sy by Salomo kom, het sy met hom oor alles gepraat waaraan sy kon dink,

3. en Salomo het vir haar 'n antwoord gehad op al haar vrae. Niks was vir die koning onverklaarbaar nie: hy kon haar op alles antwoord.

4. Die koningin van Skeba het onder die indruk gekom van Salomo se wysheid, die tempel wat hy gebou het,

5. die geregte op sy tafel, die manier waarop sy amptenare aangesit het, die bediening deur sy tafelbediendes, hulle monderings, sy skinkers en van die optog wanneer hy na die huis van die Here toe opgegaan het. Haar asem het daarvan weggeslaan.

6. Sy het vir die koning gesê: “Wat ek in my land oor u en u wysheid gehoor het, is waar.

7. Ek het nie geglo wat hulle vir my gesê het nie totdat ek gekom en myself oortuig het. Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is nie. U het alles wat ek oor u wysheid en voortreflikheid gehoor het, ver oortref.

8. Hoe bevoorreg is u mense en hoe bevoorreg is hierdie amptenare van u dat hulle gedurig in u diens staan en u wysheid aanhoor!

9. Geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys dat Hy u op die troon van Israel gesit het! Dit is omdat die Here Israel vir altyd liefhet dat Hy u as koning oor hulle aangestel het om die orde en die reg te handhaaf.”

10. Sy het vir die koning meer as vier ton goud en 'n groot hoeveelheid kosbare kruie en edelstene gegee. Die kruie wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het, was meer as wat ooit die land ingekom het.

11. Bowendien het die skepe van Hiram wat die goud uit Ofir gebring het, ook nog 'n groot hoeveelheid jenewerhout en edelstene gebring.

12. Die koning het die jenewerhout gebruik vir relings by die huis van die Here en by die koninklike paleis, en vir die liere en harpe van die musikante. Daar is tot vandag toe nie sulke jenewerhout gesien nie.

13. Vir die koningin van Skeba het koning Salomo alles gegee wat sy begeer en gevra het, buiten nog wat hy uit sy eie vir haar gegee het. Sy is toe terug na haar land toe, sy en haar gevolg.

Die rykdom, weelde en mag van Salomo

14. Salomo se jaarlikse inkomste aan goud het sowat drie en twintig ton beloop,

15. behalwe nog wat die reisigers en handelaars en al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs ingebring het.

16. Koning Salomo het twee honderd groot skilde van goud gemaak; hy het vir elke skild byna sewe kilogram goud gebruik.

17. Hy het ook nog drie honderd klein skilde van goud gemaak; hier het hy sowat twee kilogram vir elke skild gebruik. Die koning het hulle opgestel in die Libanonsbosgebou.

18. Verder het die koning 'n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

19. Die troon het ses trappe gehad en die kopstuk agter was rond. Weerskante van die sitplek was daar armleunings, met 'n leeu langs elkeen.

20. Twaalf leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie.

21. Al koning Salomo se drinkgerei was van goud. Alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van fyngoud. Silwer was in Salomo se dae so volop dat dit nie as iets besonders beskou is nie.

22. Die koning het 'n vloot gehad wat saam met dié van Hiram na Tarsis toe gevaar het. Om die drie jaar het die Tarsisvloot teruggekom, vol goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane.

23. Koning Salomo het al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid.

24. Die hele wêreld het geprobeer om hom te sien te kry en die wysheid wat God hom gegee het, aan te hoor.

25. Elkeen het sy geskenk saamgebring: silwer- en goudware, mantels, wapenrusting, kosbare kruie, perde en muile. So het dit jaar vir jaar gegaan.

26. Salomo het 'n mag van strydwaens en ruiters bymekaargebring. Hy het veertien honderd strydwaens en twaalf duisend ruiters gehad. Hy het hulle gestasioneer in die strydwaposte en by die paleis in Jerusalem.

27. Silwer het hy in Jerusalem so alledaags soos klippe gemaak en seders soos die wildevyebome in die Laeveld.

28. Perde is vir Salomo uit Egipte en Kewé ingevoer. Die handelaars wat deur die koning aangestel is, het hulle daar gaan koop vir die prys waarop ooreengekom is.

29. Om 'n wa uit Egipte in te voer, het net minder as sewe kilogram silwer gekos, en 'n perd ongeveer een en 'n driekwart kilogram. Dieselfde pryse is aan die Hetitiese en die Aramese konings betaal. Die invoer het deur bemiddeling van die handelaars geskied.