hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 9 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die belofte en dreigement van die Here

1. Nadat Salomo die tempel van die Here en die koninklike paleis klaar gebou en alles wat hy wou doen, voorspoedig afgehandel het,

2. het die Here 'n tweede keer aan hom verskyn soos Hy by Gibeon aan hom verskyn het,

3. en vir hom gesê: “Ek het jou gebed en jou smeking wat jy tot My gerig het, verhoor. Ek heilig hierdie tempel wat jy gebou het, sodat my Naam altyd daar sal wees. Ek sal altyd daarvoor sorg en daaraan dink.

4. “En jy, as jy soos jou vader Dawid opreg en met oorgawe voor My leef en alles doen wat Ek jou beveel en my voorskrifte en bepalings nakom,

5. sal Ek jou heerskappy oor Israel bestendig. So het Ek jou vader Dawid belowe: Daar sal altyd iemand uit jou nageslag wees om oor Israel te regeer.

6. “Maar as julle en julle nageslag van My af wegdraai en my gebooie en my voorskrifte wat Ek julle gegee het, nie nakom nie en julle gaan dien ander gode en buig voor hulle,

7. sal Ek Israel wegdryf uit die land wat Ek hulle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal Israel 'n spot en 'n skimp maak onder al die volke.

8. Ja, hoe uitsonderlik hierdie tempel ook al was, elke verbyganger sal dan van verbasing sy asem intrek en fluit en vra: ‘Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel?’

9. En dan sal die mense antwoord: Omdat daardie volk die Here hulle God verlaat het, Hy wat hulle voorvaders uit Egipte gebring het. Hulle het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het die Here al hierdie groot rampe oor sy volk gebring.”

Ander mededelings oor Salomo

10. Na afloop van die twintig jaar waarin Salomo die twee geboue opgerig het, die huis van die Here en die koninklike paleis,

11. waarvoor koning Hiram van Tirus aan Salomo soveel sederhout, sipreshout en ook goud gelewer het as wat hy wou hê, het koning Salomo twintig stede in Galilea aan Hiram oorgedra.

12. Toe Hiram hierdie stede wat Salomo aan hom oorgedra het, uit Tirus gaan besigtig, was hy teleurgestel

13. en het hy gesê: “Wat se stede is dit wat jy vir my gee, my broer!”Daarom dra dit tot vandag nog die naam “Kabulstreek”.

14. Hiram het aan Salomo meer as vier ton goud gelewer.

15. Vir die bou van die huis van die Here en die paleis, die terras en die muur van Jerusalem, en vir die herbou van die stede Hasor, Megiddo en Geser het koning Salomo van dwangarbeid gebruik gemaak.

16. Die farao, die koning van Egipte, het Geser met sy leër ingeneem, dit aan die brand gesteek en die Kanaäniete wat die stad bewoon het, om die lewe gebring. Daarna het hy dit as bruidskat gegee vir sy dogter wat met Salomo getrou het.

17. Salomo het Geser weer opgebou, en ook Bet-Goron-Onder,

18. Baälat en Tamar in die woestyn, in die gebied van Juda;

19. verder ook al die voorraadstede wat hy besit het, die stede vir die strydwamagte en die berede magte. Hy het ook al die bouwerk wat hy hom voorgeneem het, voltooi: dié in Jerusalem en ook dié op die Libanon en dwarsdeur die hele land waaroor hy geregeer het.

20. Salomo het al die nie-Israeliete, die mense wat nog oor was van die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete,

21. afstammelinge van dié wat nie deur die Israeliete uitgeroei is nie en nog oor was in die land, opgeroep om dwangarbeid te doen. Dit is vandag nog so.

22. Salomo het nie die Israeliete as arbeiders gebruik nie; hulle was sy soldate, sy lyfwag, sy amptenare, die aanvoerders van sy strydwabemannings, sy strydwamag en sy berede mag.

23. Daar was ook nog die volgende getal uitvoerende beamptes oor wie koning Salomo beskik het: vyf honderd en vyftig wat gesag uitgeoefen het oor die werksmense.

24. Nadat die dogter van die farao oorgetrek het van die Dawidstad af na die huis wat Salomo vir haar gebou het, het hy die terras gebou.

25. Salomo het drie maal per jaar brandoffers en maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die Here gebou het, en daarmee saam wierookoffers vir die Here gebrand. So het hy sy verantwoordelikheid in die tempel nagekom.

26. Koning Salomo het ook skepe gebou in Esjon-Geber by Elat aan die kus van die Rietsee in Edom.

27. Hiram het vir hom skepe gestuur en ervare seemanne. Hulle het saam met Salomo se manne

28. na Ofir toe gevaar en daar vir koning Salomo meer as veertien ton goud gaan haal.