hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 7 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte

1. Die Fariseërs en sommige skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, kom toe by Jesus.

2. Hulle het gesien party van sy dissipels eet hulle kos met onrein hande, dit is met hande wat nie gewas is nie.

3. Die Fariseërs, en tewens die Jode oor die algemeen, eet immers nie as hulle nie eers hulle hande behoorlik gewas het nie. So hou hulle hulle aan die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte.

4. En wanneer hulle van die dorp af kom, eet hulle nie as hulle nie eers gewas het nie. Daar is ook nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle hulle hou soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele te was.

5. Die Fariseërs en die skrifgeleerdes vra Hom toe: “Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie en eet hulle met onrein hande?”

6. Hy antwoord hulle: “Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges, soos daar geskrywe staan:“Hierdie volk eer My met hulle mond,maar hulle hart is ver van My af.

7. Dit help niks dat hulle My probeer diendeur leerstellings van menseas gebooie van God voor te hou nie.

8. “Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.”

9. Hy het verder vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuiwe en julle oorgelewerde gebruike in stand te hou.

10. Moses het gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’

11. Maar julle sê: ‘Iemand kan vir sy pa of sy ma sê: Enige gawe wat u van my sou kon kry, is korban,’ dit wil sê: 'n offergawe vir God.

12. En so laat julle hom toe om hoegenaamd niks vir sy pa of sy ma te doen nie.

13. So ontneem julle die woord van God sy gesag deur julle oorgelewerde gebruike wat julle op julle beurt weer oorgelewer het. Daar is ook nog baie ander sulke dinge wat julle doen.”

Wat 'n mens onrein maak

14. Daarna het Jesus weer die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal hier na My en verstaan dit goed:

15. Niks wat van buite af in 'n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit 'n mens uitkom, dít maak hom onrein.”

17. Toe Hy van die menigte af weer huis toe gegaan het, het sy dissipels Hom oor hierdie beeldspraak uitgevra.

18. Hy sê toe vir hulle: “So, dan verstaan julle dit ook nie? Begryp julle nie dat niks wat van buite af in 'n mens ingaan, hom onrein kan maak nie,

19. omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan?”Daarmee het Hy alle kos rein verklaar.

20. “Maar,” het Hy verder gesê, “wat van binne af uit 'n mens kom, dít maak 'n mens onrein.

21. Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord,

22. owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid.

23. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak 'n mens onrein.”

Die Siro-Fenisiese vrou

24. Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in 'n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie.

25. 'n Vrou wie se dogtertjie van 'n onrein gees besete was, het gou van Hom te hore gekom. Sy het gekom en voor sy voete neergeval.

26. Hierdie vrou was 'n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe.

27. Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

28. Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.”

29. Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”

30. Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die bose gees was al klaar uit haar uit.

Jesus genees 'n doofstom man

31. Jesus is weer uit die gebied van Tirus weg en deur Sidon na die See van Galilea toe in die gebied van Dekapolis.

32. Die mense bring toe 'n dowe man wat ook 'n spraakgebrek het na Hom toe en vra Hom om tog sy hand op hom te lê.

33. Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer.

34. Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê: “Effata!” Dit beteken: Gaan oop!

35. Sy ore het dadelik oopgegaan, die belemmering van sy spraak het verdwyn, en hy het reg gepraat.

36. Jesus het die mense belet om dit vir iemand anders te vertel, maar hoe meer Hy hulle belet het, hoe meer het hulle dit verkondig.

37. Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.”