hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus voor Pilatus

1. Die môre vroeg het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifgeleerdes dadelik as volle Joodse Raad 'n vergadering gehou. Hulle het Jesus geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus uitgelewer.

2. Pilatus het vir Hom gevra: “Is jy die koning van die Jode?”Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê.”

3. Die priesterhoofde het Hom van baie dinge beskuldig.

4. Pilatus het Hom toe verder ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gevra. “Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.”

5. Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was.

Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word

6. Elke paasfees het Pilatus vir die mense een gevangene, die een wat hulle gevra het, losgelaat.

7. Daar was 'n man met die naam Barabbas in die tronk saam met ander opstandelinge. Hulle het tydens die opstand moord gepleeg.

8. Daar het toe juis 'n klomp mense gekom en Pilatus gevra om vir hulle te doen wat hulle van hom gewoond was.

9. Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”

10. Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

11. Hulle het die mense egter opgesteek om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moet loslaat.

12. Pilatus het weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?”

13. “Kruisig hom!” skreeu hulle.

14. “Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” vra Pilatus hulle.Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

15. Omdat Pilatus die mense hulle sin wou gee, het hy Barabbas toe vir hulle losgelaat en Jesus laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus

16. Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar.

17. Toe trek hulle Hom 'n pers mantel aan en vleg 'n doringkroon en sit dit vir Hom op.

18. Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”

19. Hulle het Hom herhaaldelik met 'n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys.

20. Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

Jesus word gekruisig

21. Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus.

22. Hulle bring Jesus toe na 'n plek Golgota, wat Kopbeenplek beteken.

23. Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie.

24. Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry.

25. Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het.

26. En die rede waarom Hy gekruisig is, was op 'n bordjie aan die kruis geskrywe: “Die koning van die Jode.”

27. Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en een links van Hom.

29. Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: “Toe, jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou!

30. Red jouself en kom van die kruis af.”

31. Net so het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes ook spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie!

32. Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo!”Die twee wat saam met Hom gekruisig is, het Hom ook beledig.

Jesus sterwe

33. Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur.

34. Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?

35. Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.”

36. Een van hulle het toe gehardloop, 'n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op 'n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.”

37. Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

38. Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.

39. Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

40. Daar het ook vroue op 'n afstand gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses, en Salome.

41. Toe Jesus nog in Galilea was, het hulle oral saam met Hom gegaan en Hom versorg. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het, was ook daar.

Jesus word begrawe

42. Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat.

43. Josef van Arimatea, 'n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra.

44. Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het.

45. Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee.

46. Josef het 'n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in 'n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het 'n klip voor die ingang van die graf gerol.

47. Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.