hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die intog van Jesus in Jerusalem

1. Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië op die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels

2. en sê vir hulle: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar 'n jong donkie vasgemaak kry. Geen mens het nog op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier.

3. En as iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ moet julle sê: Die Here het hom nodig, en Hy sal hom gou weer hierheen terugstuur.”

4. Hulle het toe gegaan en 'n jong donkie by die ingang, buite langs die pad, vasgemaak gekry en hom losgemaak.

5. Party van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gesê: “Waarom maak julle die donkie los?”

6. Hulle het hulle geantwoord soos Jesus gesê het. Daarna het die mense hulle laat begaan.

7. Hulle bring toe die donkie na Jesus toe en sit van hulle klere op hom, en Jesus het opgeklim.

8. Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi en party weer groen takkies wat hulle langs die pad afgebreek het.

9. Dié wat voor geloop en dié wat agteraan gekom het, het uitgeroep:“Prys Hom!Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

10. Geseënd is ons voorvader Dawid se koninkrykwat aan die kom is!Prys Hom in die hoogste hemel!”

11. Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk. Dit was al laat middag toe Hy en die twaalf weer na Betanië toe gegaan het.

Jesus vervloek die vyeboom

12. Toe hulle die volgende dag van Betanië af terugkom, het Jesus honger gekry.

13. Hy sien toe op 'n afstand 'n vyeboom met blare aan en gaan daarheen om te kyk of Hy nie miskien 'n vy daaraan kry nie. Toe Hy daar kom, kry Hy niks nie, net blare, want dit was nie vyetyd nie.

14. Hy sê toe vir die boom: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.”Sy dissipels het dit gehoor.

Die reiniging van die tempel

15. Hulle kom toe in Jerusalem aan. Jesus het na die tempel toe gegaan en die mense wat op die tempelplein besig was om te koop en te verkoop, daar begin uitjaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi.

16. En Hy het niemand toegelaat om goed oor die tempelplein te dra nie.

17. Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed vir al die nasies wees’ nie? Maar julle het dit 'n rowersnes gemaak.”

18. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het dit gehoor en het na 'n plan gesoek om Hom om die lewe te bring, want hulle was bang vir Hom, omdat al die mense deur sy leer aangegryp is.

19. Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels uit die stad uit weggegaan.

Die vyeboom het verdroog

20. Toe hulle die volgende môre vroeg by die vyeboom verbygaan, sien hulle dat hy tot in sy wortels verdroog is.

21. Gedagtig aan wat Jesus gesê het, sê Petrus vir Hom: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.”

22. Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê!

23. Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur.

24. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

25. “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.”

Die vraag oor Jesus se gesag

27. Hulle kom toe weer in Jerusalem aan. Terwyl Jesus op die tempelplein loop, kom die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde na Hom toe

28. en vra vir Hom: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie het u hierdie gesag gegee om dit te doen?”

29. Jesus sê toe vir hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen.

30. Die doop van Johannes, was dit van God of van mense afkomstig? Antwoord My.”

31. Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’

32. Maar moet ons sê: ‘Van mense af’? ...” Hulle was bang vir die mense, want almal was van mening dat Johannes werklik 'n profeet was.

33. Daarom sê hulle toe vir Jesus: “Ons weet nie.”Jesus sê toe vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”