hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het opgestaan

1. Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem.

2. Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom.

3. Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?”

4. Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is.

5. Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle 'n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik.

6. “Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het.

7. Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”

8. Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.

Jesus verskyn na sy opstanding

9. Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het.

10. Sy het dit vir sy dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het.

11. Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie.

12. Daarna het Jesus met 'n ander voorkoms aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland toe.

13. Hulle het dit vir die ander dissipels gaan vertel, maar dié het selfs vir húlle ook nie geglo nie.

14. Later het Jesus aan die elftal self verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart omdat hulle dié wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie.

15. Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.

16. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word.

17. Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat;

18. met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”

19. Nadat die Here Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit.

20. Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het.