hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 1 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:

Die optrede van Johannes die Doper

2. In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe:“Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit.Hy sal die pad vir jou regmaak.

3. Iemand roep in die woestyn:Maak die pad vir die Here gereed,maak die paaie vir Hom reguit.”

4. Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.

5. Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

6. Johannes het klere van kameelhaar gedra met 'n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe.

7. Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie.

8. Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

Jesus word gedoop

9. Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop.

10. Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos 'n duif na Hom toe sien neerdaal.

11. Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Jesus word versoek

12. Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in,

13. waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

Jesus begin preek

14. Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig.

15. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Jesus roep sy eerste dissipels

16. Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep.

17. Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

18. Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.

19. Toe Hy 'n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak,

20. en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

Die besetene in Kapernaum

21. Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer.

22. Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.

23. Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge 'n man wat van 'n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu:

24. “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!”

25. Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.”

26. Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan.

27. Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is 'n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.”

28. En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.

Die genesing van Petrus se skoonmoeder

29. Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan.

30. Die skoonmoeder van Simon het daar met 'n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel.

31. Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.

Nog genesings en voortgaande prediking

32. Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring.

33. Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom.

34. Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is.

35. Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid.

36. Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek,

37. en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”

38. Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.”

39. Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe.

Die genesing van 'n melaatse man

40. Daar kom toe 'n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.”

41. Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!”

42. Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn en hy het gesond geword.

43. Jesus het hom dadelik weggestuur, nadat Hy hom ernstig aangespreek

44. en vir hom gesê het: “Moet vir niemand iets hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offers vir jou reiniging wat Moses voorgeskrywe het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”

45. Hy het egter gegaan en dit wyd en syd begin verkondig en dit oral geloop en vertel. Daarom kon Jesus nie meer openlik in 'n dorp kom nie en het Hy gewoonlik buite in die oop veld gebly. Tog het die mense van alle kante af na Hom toe gekom.