hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 6 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus is Here oor die sabbat

1. Eenkeer het Jesus op 'n sabbatdag deur gesaaides geloop. Sy dissipels het are gepluk en dit met die hande uitgevrywe en geëet.

2. Toe sê 'n paar van die Fariseërs: “Waarom doen julle iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie?”

3. Jesus antwoord hulle: “Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger gekry het nie?

4. Hy het die huis van God binnegegaan en die offerbrode geneem en geëet en ook aan sy manne gegee. Tog is niemand behalwe die priesters toegelaat om daardie brood te eet nie.”

5. Verder sê Hy vir hulle: “Die Seun van die mens is Here oor die sabbat.”

Die man met die gebreklike hand

6. Op 'n ander sabbatdag het Jesus weer in die sinagoge ingegaan en die mense geleer. Daar was 'n man met 'n gebreklike regterhand.

7. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy op die sabbatdag iemand sou gesond maak sodat hulle 'n aanklag teen Hom kon kry.

8. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die gebreklike hand gesê: “Staan op en kom staan hier in die middel.” En hy het daar kom staan.

9. Toe sê Jesus vir hulle: “Nou vra Ek julle: Mag 'n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?”

10. Nadat Hy almal rondom Hom aangekyk het, sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.”

11. Hy het dit gedoen, en sy hand was gesond. Maar hulle het rasend van woede geword en onder mekaar geredeneer oor wat hulle Jesus sou aandoen.

Jesus kies twaalf apostels

12. In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God.

13. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het.

14. Hulle was Simon, wat Hy ook Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus,

15. Matteus en Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot, Judas seun van Jakobus,

16. en Judas Iskariot wat die verraaier geword het.

Weldade aan baie mense

17. Hy het saam met hulle van die berg afgekom en op 'n gelykte by 'n groot aantal volgelinge gaan staan. Van die hele Joodse land en Jerusalem en van die kusgebied van Tirus en Sidon af was daar 'n menigte mense

18. wat gekom het om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook dié wat onder onrein geeste gely het, is gesond gemaak.

19. Al die mense het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan het en Hy almal gesond gemaak het.

Seën en ellende

20. Jesus het sy dissipels aangekyk en gesê:“Geseënd is julle wat arm is,want aan julle behoort die koninkryk van God.

21. Geseënd is julle wat nou honger het,want julle sal versadig word.Geseënd is julle wat nou huil,want julle sal lag.

22. Geseënd is julle wanneer die mense julle haaten julle verstoot en uitskelen julle naam vermy soos iets wat sleg is,alles ter wille vandie Seun van die mens.

23. Wees bly op daardie dagen spring rond van vreugde,want vir julle is daargroot beloning in die hemel.Hulle voorvaders het immersmet die profete net so gemaak.

24. “Maar ellende wag vir julle wat ryk is,want julle het julle lekker lewe al weg.

25. Ellende wag vir julle wat julle nou vol eet,want julle sal honger ly.Ellende wag vir julle wat nou lag,want julle sal treur en huil.

26. Ellende wag vir julleas al die mense goed van julle praat.Hulle voorvaders het immersmet die vals profete net so gemaak.”

Liefde vir die vyand

27. “Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word;

28. seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word.

29. As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie.

30. Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie.

31. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.

32. “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet.

33. En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so.

34. En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry.

35. Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes.

36. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”

Moenie oordeel nie

37. “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie.Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie.Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.

38. Gee, en vir julle sal gegee word:'n goeie maat,ingestamp, geskud en propvol,sal hulle in julle hande gee.Met die maat waarmee julle meet,sal ook vir julle gemeet word.”

39. Hy het ook met beeldspraak vir hulle gesê: “Kan 'n blinde miskien 'n ander blinde lei? Sal hulle nie altwee in 'n sloot val nie?

40. 'n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees.

41. “Waarom sien jy die splinter raak in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?

42. Jy wat die balk in jou eie oog nie raaksien nie, hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Broer, laat my toe om die splinter in jou oog uit te haal’? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter in jou broer se oog uit te haal.”

'n Boom word aan sy vrugte geken

43. “Dit is nie die goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie die slegte boom wat goeie vrugte dra nie.

44. Elke boom word aan sy eie vrugte geken. Van doringstruike pluk 'n mens mos nie vye nie, en van 'n doringbos oes jy ook nie druiwe nie.

45. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.”

Twee fondamente

46. “Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?

47. Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en doen wat Ek sê — Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is:

48. Hy is soos 'n man wat by die bou van sy huis die grond diep uitgegrawe en die fondament op die rotsbodem gelê het. Toe daar 'n oorstroming kom en die vloedwater die huis tref, kon dit hom nie beweeg nie, want die huis was goed gebou.

49. Maar as iemand luister en nie doen wat Ek sê nie, is hy soos 'n man wat sy huis bo-op die grond gebou het sonder 'n fondament. Toe die vloedwater dit tref, het dit dadelik ingestort, en daardie huis het een groot puinhoop geword.”