hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 7 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die genesing van die offisier se slaaf

1. Nadat Jesus die gehoor klaar toegespreek het, het Hy na Kapernaum toe gegaan.

2. 'n Offisier daar het 'n slaaf gehad wat vir hom baie werd was, en die slaaf was siek en het op sterwe gelê.

3. Die offisier het van Jesus gehoor, en stuur toe 'n paar familiehoofde van die Jode na Hom toe om te vra dat Hy moet kom om sy slaaf gesond te maak.

4. Toe hulle by Jesus kom, het hulle ernstig by Hom daarop aangedring en gesê: “Hy is dit werd dat U dit vir hom doen,

5. want hy het ons volk lief en het op eie koste die sinagoge vir ons gebou.”

6. Jesus het toe saam met hulle gegaan. Toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die offisier 'n paar van sy vriende om vir Hom te sê: “Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie.

7. Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U toe te gaan nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf is gesond.

8. Ek is self 'n man wat onder gesag gestel is en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”

9. Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor. Hy draai toe om na die mense wat agter Hom aangekom het en sê: “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so 'n groot geloof teëgekom nie.”

10. En toe die mense wat gestuur was, weer by die huis kom, kry hulle die slaaf daar heeltemal gesond.

Die opwekking van 'n weduwee se seun by Nain

11. Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan,

12. en sy dissipels en 'n hele menigte mense is saam met Hom. Toe Hy naby die ingang van die dorp kom, word daar juis 'n dooie uitgedra om begrawe te word. Hy was die enigste seun van sy ma, en sy was 'n weduwee. Byna die hele dorp se mense was saam met haar.

13. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!”

14. Hy gaan toe nader en vat aan die baar. Die draers gaan staan toe, en Hy sê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!”

15. Die dooie het regop gaan sit en begin praat. En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.

16. Almal is met ontsag vervul en het God geprys deur te sê: “'n Groot profeet het onder ons opgestaan,” en “God het na sy volk omgesien.”

17. Die berig oor wat Hy gedoen het, het deur die hele Joodse land en die omliggende gebied versprei.

Jesus en die vraag van Johannes die Doper

18. Die volgelinge van Johannes het hom van al hierdie dinge vertel. Hy laat toe twee van sy volgelinge roep

19. en stuur hulle na die Here toe om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?”

20. Toe die manne by Hom kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe gestuur om te vra: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?”

21. Op daardie oomblik het Jesus juis baie mense gesond gemaak van siektes en kwale en bose geeste, en baie blindes het Hy laat sien.

22. Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.

23. En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.”

24. Nadat die boodskappers van Johannes vertrek het, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na 'n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word?

25. Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat swierige klere dra en in weelde lewe, kry 'n mens in koninklike paleise.

26. Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as 'n profeet.

27. Dit is hy van wie daar geskrywe staan:“ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit;hy sal die pad vir jou regmaak.’

28. “Ek sê vir julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie, en tog is die geringste in die koninkryk van God groter as hy.”

29. Al die mense, ook die tollenaars, het na hom geluister en was aan die wil van God gehoorsaam. Hulle het hulle met die doop van Johannes laat doop.

30. Net die Fariseërs en die wetgeleerdes het die bedoeling van God verwerp en hulle nie deur Johannes laat doop nie.

31. Verder het Jesus gesê: “Waarmee sal Ek die mense van hierdie geslag vergelyk? Soos wie is hulle?

32. Hulle is net soos kinders wat op die markplein sit en vir mekaar roep:“Ons het vir julle op die fluit gespeel,en julle het nie gedans nie!Ons het 'n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie!

33. “Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’

34. Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink, en julle sê: ‘Kyk daar, 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars.’

35. Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Jesus by Simon, die Fariseër

36. Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem.

37. 'n Sekere vrou in die dorp, wat 'n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe 'n albaste flessie met reukolie

38. en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf.

39. Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy 'n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy 'n sondares is.”

40. Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.”“Meneer, sê dit maar!” antwoord hy.

41. Jesus sê toe: “Twee mense was in die skuld by 'n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig.

42. Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?”

43. Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.”“Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus,

44. en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom — en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog.

45. 'n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie.

46. My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf.

47. Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”

48. En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.”

49. Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?”

50. Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”