hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 3 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die prediking van Johannes die Doper

1. Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters.

2. In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom.

3. Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.

4. So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja:“Iemand roep in die woestyn:Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.

5. Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word;die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word.

6. En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.”

7. Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?

8. Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.

9. Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

10. Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”

11. Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”

12. Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?”

13. En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”

14. Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?”Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”

15. Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie.

16. Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

17. Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

18. Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.

19. Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het.

20. Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit.

Die doop van Jesus

21. Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan

22. en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos 'n duif op Hom neergedaal. Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Die geslagsregister van Jesus

23. Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy omtrent dertig jaar oud. Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef. Josef was die seun van Eli,

24. seun van Mattat, seun van Levi, seun van Melgi, seun van Jannai, seun van Josef,

25. seun van Mattatias, seun van Amos, seun van Nahum, seun van Hesli, seun van Naggai,

26. seun van Mahat, seun van Mattatias, seun van Semeïn, seun van Josek, seun van Joda,

27. seun van Johanan, seun van Resa, seun van Serubbabel, seun van Sealtiël, seun van Neri,

28. seun van Melgi, seun van Addi, seun van Kosam, seun van Elmadam, seun van Er,

29. seun van Josua, seun van Eliëser, seun van Jorim, seun van Mattat, seun van Levi,

30. seun van Simeon, seun van Juda, seun van Josef, seun van Jonam, seun van Eljakim,

31. seun van Melea, seun van Menna, seun van Mattata, seun van Natan, seun van Dawid,

32. seun van Isai, seun van Obed, seun van Boas, seun van Sala, seun van Nagson,

33. seun van Amminadab, seun van Admin, seun van Arni, seun van Gesron, seun van Peres, seun van Juda,

34. seun van Jakob, seun van Isak, seun van Abraham, seun van Tera, seun van Nahor,

35. seun van Serug, seun van Rehu, seun van Peleg, seun van Heber, seun van Sala,

36. seun van Kenan, seun van Arpagsad, seun van Sem, seun van Noag, seun van Lameg,

37. seun van Metusalag, seun van Henog, seun van Jered, seun van Mahalalel, seun van Kenan,

38. seun van Enos, seun van Set, seun van Adam, die seun van God.