hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 5 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die roeping van die eerste dissipels

1. Op 'n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor,

2. sien Hy twee skuite aan die kant van die meer lê. Die vissers het uitgeklim en was besig om die nette uit te spoel.

3. Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit 'n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer.

4. Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.”

5. “Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.”

6. En toe hulle dit doen, het hulle so 'n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur.

7. Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het.

8. Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.”

9. Hy en almal wat saam met hom was, was stom verbaas oor die groot klomp vis wat hulle gevang het.

10. Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Toe sê Jesus vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.”

11. En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.

Die genesing van 'n melaatse

12. Eendag toe Jesus in een van die dorpe was, kom Hy 'n man teë wat oortrek was van die melaatsheid. Toe die man Hom sien, val hy op sy knieë voor Hom en smeek: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”

13. Jesus steek sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!”En sy melaatsheid was onmiddellik weg.

14. Toe gee Jesus hom opdrag: “Moet dit aan niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring offers vir jou reiniging soos Moses voorgeskryf het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”

15. Tog het die nuus oor Hom nog verder versprei, en groot menigtes het saamgedrom om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word.

16. Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.

'n Verlamde man word gesond gemaak

17. Op een van dié dae, terwyl Jesus besig was om die mense te leer, het daar ook Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses gesit wat van oral af uit die dorpe van Galilea en Judea en selfs uit Jerusalem gekom het. En die Here het vir Jesus die krag gegee om mense gesond te maak.

18. Onverwags kom daar mense met 'n verlamde man op 'n draagbaar aan, en hulle probeer om hom die huis in te bring en voor Jesus neer te sit.

19. Toe hulle vanweë die gedrang nie kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met draagbaar en al deur 'n opening tussen die dakteëls afsak tussen die mense in en vlak voor Jesus.

20. Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.”

21. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het hulle begin afvra: “Wie is hy dat hy so godslasterlik praat? Wie anders kan sondes vergewe as net God alleen?”

22. Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk en vir hulle gesê: “Wat redeneer julle by julleself?

23. Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’?

24. Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.”Toe sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.”

25. Onmiddellik het hy voor hulle oë opgestaan, die draagbaar waarop hy gelê het, gevat en terwyl hy God prys, huis toe gegaan.

26. Almal het verbaas gestaan en God geprys en vol eerbiedige vrees gesê: “Vandag het ons ongelooflike dinge gesien.”

Die roeping van Levi

27. Daarna het Jesus uitgegaan en 'n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.”

28. Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg.

29. Levi het 'n groot feesmaal in sy huis gehou ter ere van Jesus, en 'n groot aantal tollenaars en ander mense het saam met hulle aangesit.

30. Die Fariseërs, en veral die skrifgeleerdes onder hulle, het by sy dissipels gekla en gesê: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”

31. Toe antwoord Jesus hulle: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.

32. Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars.”

Wat dit beteken om te vas

33. Die mense sê toe vir Jesus: “Die volgelinge van Johannes vas dikwels en onderhou gereelde gebedstye, en so ook die volgelinge van die Fariseërs, en u dissipels eet en drink maar.”

34. Toe sê Jesus vir hulle: “Kan julle dan die bruilofsgaste laat vas terwyl die bruidegom by hulle is?

35. Daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word en dan, in daardie dae, sal hulle vas.”

36. Hy vertel hulle ook nog 'n gelykenis: “Niemand skeur 'n stuk uit nuwe klere om daarmee ou klere te lap nie. As hy dit sou doen, sou die nuwe klere stukkend wees, en buitendien sal die nuwe lap nie by die ou klere pas nie.

37. “En niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die velsakke laat oopbars. Dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen.

38. Nee, nuwe wyn moet in nuwe velsakke gegooi word.

39. “En niemand wat ou wyn gedrink het, wil nuwe wyn hê nie, want hy sê: Die oue is goed.”