hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 1 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Woord aan Teofilus

1. Hooggeagte Teofilus!Daar is baie wat onderneem het om 'n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het.

2. Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was.

3. Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf.

4. So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is.

Die geboorte van Johannes die Doper word aangekondig

5. In die tyd van koning Herodes van Judea was daar 'n priester met die naam Sagaria, uit die diensgroep van Abia. Ook sy vrou het van Aäron afgestam, en haar naam was Elisabet.

6. Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou.

7. Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd.

8. Op 'n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig,

9. is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand.

10. Terwyl die wierookoffer gebring is, was die hele volksmenigte buite besig om te bid.

11. Toe verskyn daar aan die regterkant van die wierookaltaar 'n engel van die Here aan hom.

12. Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword,

13. maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.

14. Hy sal 'n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte,

15. want hy sal groot wees in die oë van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees.

16. Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God.

17. En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here 'n volk voor te berei.”

18. Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is 'n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.”

19. Die engel antwoord hom: “Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring.

20. Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.”

21. Intussen het die volk vir Sagaria gestaan en wag en begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly.

22. Toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle kom toe agter dat hy in die tempel 'n gesig gesien het. Hy het net aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.

23. Toe die tyd van sy tempeldiens om was, het hy huis toe gegaan.

24. Na daardie tyd het sy vrou Elisabet swanger geword en haar vyf maande lank afgesonder. Sy het gesê:

25. “Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.”

Die geboorte van Jesus word aangekondig

26. In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na 'n maagd in Nasaret, 'n dorp in Galilea.

27. Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria.

28. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

29. Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken.

30. Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou.

31. Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.

32. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee,

33. en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

34. Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met 'n man gehad het nie?”

35. Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.

36. Kyk, 'n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook 'n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand.

37. Niks is vir God onmoontlik nie.”

38. Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”Toe het die engel van haar af weggegaan.

Maria besoek Elisabet

39. Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die bergstreek van Judea gegaan.

40. Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet.

41. Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul

42. en het hard uitgeroep:“Geseënd is jy onder die vroueen geseënd is die vrug van jou moederskoot!

43. Waaraan het ek dit te dankedat die moeder van my Herena my toe kom?

44. Kyk, net toe die geluid van jou groetin my ore klink,het die kindjie in my van vreugde beweeg.

45. Gelukkig is sy wat glodat in vervulling sal gaanwat die Here vir haar gesê het!”

Die loflied van Maria

46. En Maria het gesê:“Ek besing die grootheid van die Here,

47. ek juig oor God, my Verlosser,

48. omdat Hy na myin my geringheid omgesien het.Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem,

49. omdat Hy wat magtig is,groot dinge aan my gedoen het.Heilig is sy Naam!

50. Hy bewys ontfermingvan geslag tot geslagaan dié wat Hom eer.

51. Kragtige dade het Hy met sy arm verrig:hoogmoediges in hulle eiewaanhet Hy uitmekaargejaag;

52. maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog;

53. behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawesen rykes met leë hande weggestuur.

54. Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekomdeur te dink aan sy beloftes van ontferming

55. soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders,aan Abraham en sy nageslagtot in ewigheid.”

56. Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

Die geboorte van Johannes die Doper

57. Toe die tyd gekom het dat Elisabet se kind gebore moes word, het sy 'n seun in die wêreld gebring.

58. Haar bure en familie het gehoor dat die Here aan haar groot ontferming bewys het, en hulle was saam met haar bly.

59. Op die agste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaria noem na sy pa.

60. Maar sy ma het gesê: “Nee! Hy moet Johannes genoem word.”

61. Hulle sê vir haar: “Daar is niemand in jou familie wat die naam het nie!”

62. Met gebare vra hulle toe sy pa hoe hy wil hê dat die kindjie genoem moet word.

63. Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf daarop: “Johannes is sy naam.” En almal was verbaas.

64. Onmiddellik het Sagaria sy spraak teruggekry en begin praat en God geprys.

65. Almal wat rondom hulle gewoon het, is met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea is daar baie gepraat oor al hierdie dinge.

66. Almal wat dit gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal hierdie kindjie eendag word?”Dit was duidelik dat die Here by hom was.

Die loflied van Sagaria

67. Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:

68. “Lofwaardig is die Here, die God van Israel,want Hy het sy volk in genade opgesoeken vir hulle verlossing bewerk.

69. 'n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaanuit die huis van sy dienaar Dawid.

70. So het die Here dit reedsvan oudsher belowedeur die mond van sy heilige profete:

71. om ons te verlos van ons vyandeen uit die hand van al ons haters;

72. om Hom te ontferm oor ons voorvadersen sy heilige verbond te onthou.

73. Met 'n eed het Hy dit bevestigaan ons voorvader Abrahamdat Hy sou gee dat ons,

74. gered uit die hand van vyande,Hom onbevrees kan dien

75. in vroomheid en opregtheidal die dae van ons lewe.

76. “En jy, kindjie,'n profeet van die Allerhoogstesal jy genoem word,want jy sal voor die Here uit gaanom sy pad gereed te maak,

77. om kennis van verlossingaan sy volk mee te deel:verlossing deur vergifnis van hulle sondes,

78. danksy die genadige ontferming van ons God.Soos die môreson sal Hy opgaanen uit die hoogte op ons afstraal,

79. om lig te bring aan dié wat in duisternisen in die skaduwee van die dood lewe,om ons voetstappe te rigop die pad van vrede.”

80. Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.