hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 6 Afrikaans 1983 (AFR83)

Sewe diakens word gekies

1. In daardie tyd, toe die gelowiges nog steeds meer geword het, het daar teen die Hebreeussprekendes klagtes gekom van die Griekssprekendes dat hulle weduwees in die daaglikse versorging afgeskeep word.

2. Die twaalf apostels roep toe al die gelowiges bymekaar en sê vir hulle: “Dit is nie reg dat ons die verkondiging van die woord van God verwaarloos om die versorging te kan behartig nie.

3. Nou, broers, soek sewe mans onder julle uit wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het, sodat ons hulle vir hierdie taak kan aanstel.

4. Ons sal dan al ons aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee.”

5. Die voorstel het by al die gelowiges byval gevind, en hulle het Stefanus gekies, 'n man met 'n vaste geloof en vol van die Heilige Gees, en verder Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas, en Nikolaus wat van Antiogië afkomstig was en vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het.

6. Die gelowiges het hulle voor die apostels gebring, en dié het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê.

7. Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs 'n groot aantal priesters het gelowig geword.

Stefanus word gevange geneem

8. Stefanus, aan wie God baie genade en krag gegee het, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen.

9. Party van die lede van die Sinagoge van die Vrygelate Slawe, soos dit genoem is, wat bestaan het uit Jode wat van Sirene en Aleksandrië afkomstig was, het toe saam met Jode wat van die provinsies Silisië en Asië gekom het, met Stefanus begin redeneer.

10. Hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid wat hy van die Gees ontvang het en waarmee hy gepraat het nie.

11. Toe het hulle mense omgekoop om te sê: “Ons het hom teen Moses en God hoor laster.”

12. Hulle het die volk en die familiehoofde en die skrifgeleerdes opgesweep. Dié het op hom afgestorm, hom gegryp en voor die Joodse Raad gebring

13. en vals getuies gekry om te sê: “Hierdie man wil nie ophou om dinge teen die heilige tempel en die wet van Moses te sê nie.

14. Ons het hom hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret die tempel sal afbreek en die voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, sal verander.”

15. Toe al die lede van die Raad stip na Stefanus sit en kyk, sien hulle dat sy gesig soos dié van 'n engel lyk.