hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Paulus en Barnabas in Ikonium

1. In Ikonium het Paulus en Barnabas op dieselfde manier opgetree. Hulle het weer na die Joodse sinagoge toe gegaan en daar gepreek, met die gevolg dat 'n groot aantal Jode en Grieke gelowig geword het.

2. Maar die Jode wat nie die boodskap wou aanneem nie, het die gemoedere van die heidene opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits.

3. Ten spyte hiervan het die apostels 'n geruime tyd in die stad gebly en in vertroue op die Here onbevrees gepreek. Die Here het ook die boodskap van sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen.

4. Die inwoners van die stad was verdeeld, party vir die Jode en party vir die apostels.

5. Die heidene en die Jode saam met hulle leiers het egter oproerig begin word en wou hulle aanrand en stenig.

6. Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en omgewing gevlug. Dit was twee stede in Likaonië.

7. Daar het hulle toe die evangelie verkondig.

Paulus en Barnabas in Listra

8. In Listra was daar 'n man met gebreklike voete. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie.

9. Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word.

10. Toe roep hy na hom: “Staan regop, op jou voete!”Die man het opgespring en hy kon loop.

11. Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe afgekom!”

12. Hulle het vir Barnabas Zeus genoem en vir Paulus Hermes, omdat hy die woordvoerder was.

13. Die priester van die Zeustempel, net buitekant die stad, het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy wou saam met die mense offers aan die apostels gaan bring.

14. Toe die apostels, Barnabas en Paulus, daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die mense ingespring en geskreeu:

15. “Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het.

16. Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan,

17. maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.”

18. Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels nouliks voorkom dat die mense aan hulle offers bring.

19. Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus met klippe gegooi en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is.

20. Daar het die gelowiges rondom hom kom staan, en hy het opgestaan en weer die stad ingegaan. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe toe vertrek.

Paulus en Barnabas keer na Antiogië in Sirië terug

21. Paulus en Barnabas het die evangelie ook in Derbe verkondig, en baie mense het daar gelowig geword.Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië toe teruggegaan.

22. Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” het hulle gesê.

23. In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het.

24. Die apostels het verder deur Pisidië na Pamfilië toe gegaan.

25. Daar het hulle in Perge die woord verkondig en daarna na Attalië toe vertrek.

26. Daarvandaan is hulle met 'n skip terug na Antiogië toe, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle nou voltooi het.

27. By hulle aankoms het hulle die gemeente bymekaargeroep en vir hulle vertel wat God alles deur hulle gedoen het en dat Hy vir die heidene die deur van die geloof oopgemaak het.

28. Die apostels het 'n geruime tyd daar by die gelowiges deurgebring.