hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 8 Afrikaans 1983 (AFR83)

Saulus vervolg die kerk

1. Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur.Daardie dag het daar 'n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria.

2. Godvresende mense het vir Stefanus begrawe en daar is baie oor hom gerou.

3. Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit.

Die evangelie in Samaria

4. Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig.

5. So het dit gebeur dat Filippus by 'n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het.

6. Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister.

7. Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak.

8. Daar was groot blydskap in daardie stad.

9. In dieselfde stad was daar 'n man met die naam Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is,

10. en almal, klein en groot, het hom aangehang. Hulle het gesê: “Hy is wat ons ‘Die Groot Krag van God’ noem.”

11. Hy het 'n aanhang onder hulle gekry omdat hy hulle oor 'n lang tydperk met sy toorkunste verstom het.

12. Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop.

13. Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het.

14. Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die woord van God aanvaar het, het hulle vir Petrus en Johannes daarheen gestuur.

15. Dié het toe gegaan en vir die mense daar gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang,

16. want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop.

17. Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

18. Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang as die apostels hulle die hande oplê, het hy hulle geld aangebied

19. en gesê: “Gee my ook hierdie bevoegdheid sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.”

20. Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop?

21. In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie.

22. Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe.

23. Ek sien jy is deur afguns vergiftig en deur die sonde verstrik.”

24. Toe sê Simon vir die apostels: “Bid júlle tog vir my tot die Here, sodat niks van wat julle gesê het, my tref nie.”

25. So het die apostels dan kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here verkondig. Hulle het na Jerusalem toe teruggegaan en onderweg die evangelie in baie dorpe van die Samaritane verkondig.

Filippus en die Etiopiër

26. 'n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop.” Dit is 'n stil pad.

27. Filippus het toe klaargemaak en gegaan.'n Ontmande Etiopiër wat 'n hoë pos beklee het aan die hof van die kandake, soos die koningin van Etiopië genoem is, en wat haar geldsake beheer het, het na Jerusalem toe gekom om te aanbid.

28. Hy was nou op pad terug en het op sy wa gesit en lees uit die profeet Jesaja.

29. Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa.”

30. Filippus het daarheen gehardloop en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra toe vir hom: “Verstaan u wat u lees?”

31. Die Etiopiër antwoord: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?”Hy het Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit.

32. Die Skrifgedeelte wat hy gelees het, was dit:“Soos 'n skaap is Hy gelei om geslag te word;en soos 'n lam wat stil is as hy geskeer word,het Hy nie sy mond oopgemaak nie.

33. In sy vernedering het daar nie reg aan Hom geskied nie.Wie sal van sy nageslag kan vertel?Sy lewe op aarde word beëindig.”

34. Die amptenaar vra toe vir Filippus: “Sê vir my, asseblief, van wie praat die profeet hier, van homself of van iemand anders?”

35. Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig.

36. Onderweg kom hulle toe by water aan, en die amptenaar sê: “Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?”

38. Toe het hy die wa laat stilhou. Filippus en die hofdienaar het albei in die water in gegaan, en Filippus het hom gedoop.

39. Toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem. Die amptenaar het hom nie meer gesien nie en het sy reis met blydskap voortgesit.

40. Filippus is later in Asdod aangetref. Hy het daarvandaan deur al die dorpe gegaan totdat hy in Sesarea gekom het, en oral het hy die evangelie verkondig.