hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur

1. Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus.

2. Toe hulle op 'n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.”

3. Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.

Barnabas en Saulus preek op Siprus

4. So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees uitgestuur. Hulle het na Seleukië toe gegaan en daarvandaan na Siprus toe oorgevaar

5. en in Salamis aangekom. Daar het hulle die woord van God in die Joodse sinagoges verkondig. Hulle het Johannes by hulle gehad om hulle te help.

6. Daarna het hulle die hele eiland deurgegaan tot by Pafos, waar hulle 'n Joodse towenaar met die naam Barjesus teëgekom het, wat voorgegee het dat hy 'n profeet is.

7. Hy was by die goewerneur, Sergius Paulus, wat 'n verstandige man was. Die goewerneur het vir Barnabas en Saulus laat roep, want hy wou graag die woord van God hoor.

8. Die towenaar, Elimas, soos hy in Grieks genoem is, het hulle egter teëgestaan omdat hy wou verhoed dat die goewerneur in Jesus glo.

9. Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom skerp aangekyk

10. en gesê: “Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedrieër! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan!

11. Die Here gaan jou nou straf. Jy sal blind word en die son 'n tyd lank nie sien nie.”Onmiddellik het alles vir hom vaag en donker geword, en hy het rondgetas na iemand om hom aan die hand te lei.

12. Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword.

Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië

13. Paulus en sy reisgenote het met 'n skip van Pafos af vertrek en by Perge in Pamfilië aangekom. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem toe teruggegaan.

14. Maar hulle het die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië gekom.Op die sabbatdag het hulle na die sinagoge toe gegaan en daar gaan sit.

15. Ná die voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: “Broers, as julle vir die volk 'n woord van bemoediging het, praat maar.”

16. Paulus het opgestaan, met 'n handbeweging aandag gevra en gesê: “Israeliete en godvresendes, luister!

17. Die God van hierdie volk Israel het ons voorvaders uitgekies en hulle 'n groot volk gemaak toe hulle as vreemdelinge in Egipte gewoon het. Hy het hulle deur sy groot mag daarvandaan uitgelei

18. en hulle in die woestyn ongeveer veertig jaar lank geduldig verdra.

19. Daarna het Hy sewe nasies in die land Kanaän uitgewis en hulle land aan die Israeliete gegee.

20. Dit alles het omtrent vier honderd en vyftig jaar lank geduur.“Daarna het Hy rigters oor die land laat regeer tot die tyd van die profeet Samuel.

21. Toe die Israeliete daarna 'n koning wou hê, het God vir Saul, seun van Kis uit die stam Benjamin, aan hulle gegee. Hy het veertig jaar lank geregeer.

22. Nadat God hom van sy amp onthef het, het Hy Dawid as koning oor hulle aangestel. Van hom het God gesê: ‘Ek het in Dawid seun van Isai 'n man na my hart gevind. Hy sal al my opdragte uitvoer.’

23. Uit hierdie man se nageslag het God, volgens sy belofte, Jesus as Verlosser vir Israel laat voortkom.

24. Voor Jesus se koms het Johannes die hele Israel opgeroep om hulle te bekeer en te laat doop.

25. En toe hy aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie. Maar kyk, Hy kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy skoene los te maak nie.’

26. “Broers, nakomelinge van Abraham, en julle, godvresendes, aan ons het God hierdie boodskap van die verlossing gestuur.

27. Die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het vir Jesus nie erken nie. Deur Hom te veroordeel het hulle die uitsprake van die profete, wat elke sabbatdag voorgelees word, in vervulling laat gaan.

28. En alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon kry nie, het hulle tog vir Pilatus gevra om Jesus om die lewe te bring.

29. Nadat hulle aan Jesus alles gedoen het wat van Hom in die Skrif geskrywe staan, is Hy van die kruis afgehaal en begrawe.

30. Maar God het Hom uit die dood opgewek.

31. Hy het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea af na Jerusalem toe gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk.

32. “En nou verkondig ons aan julle die goeie boodskap dat God die belofte aan die voorvaders

33. vir ons, hulle nageslag, vervul het deur Jesus uit die dood te laat opstaan. So staan daar dan ook in die tweede psalm geskrywe:“Jy is my Seun,vandag het Ek aan jou die lewe gegee.

34. “God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit vergaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê:“Ek sal vir julle die heilige en betroubare beloftesvervul wat Ek aan Dawid toegesê het.

35. “Daarom sê God ook op 'n ander plek:“U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

36. “En volgens die besluit van God het Dawid tog gesterwe nadat hy die mense van sy tyd gedien het. Hy is by sy voorvaders begrawe, en sy liggaam het vergaan.

37. Maar Jesus se liggaam het nie vergaan nie; God het Hom uit die dood opgewek.

38-39. “Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes. Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie.

40. Pas dan op dat wat die profete gesê het, nie met julle gebeur nie:

41. “Kyk, julle verag God!Julle sal verstom staan en te gronde gaan,want in julle tyd doen Ek ietswat julle beslis nie sal gloas iemand dit vir julle vertel nie!”

42. Terwyl hulle die sinagoge verlaat, het die mense vir Paulus en Barnabas gevra om hulle die volgende sabbatdag meer van hierdie dinge te vertel.

43. Nadat die sinagoge uit was, het baie van die Jode en van die mense wat vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou.

44. Die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van die Here te hoor.

45. Toe die Jode die groot opkoms sien, is hulle met afguns vervul en het hulle telkens Paulus se woorde teëgespreek en hom beledig.

46. Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie,

47. want so lui die Here se opdrag aan ons:“Ek het U gegee as 'n lig vir die nasies,sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.”

48. Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.

49. Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei.

50. Maar die Jode het vooraanstaande godvresende vroue en toonaangewende burgers van die stad teen Paulus en Barnabas opgesweep. Hulle is vervolg en uit die streek verdrywe.

51. Hulle het toe as gebaar teen die stad die stof van hulle voete afgeskud en na Ikonium toe gegaan.

52. Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.