Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:6-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. en hy sê: Here, God van ons vaders, is Ú nie God in die hemel nie, en is Ú nie Heerser oor al die koninkryke van die nasies nie? Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie.

7. Het Ú, onse God, nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdrywe en dit vir altyd aan die nageslag van Abraham, u vriend, gegee nie?

8. En hulle het daarin gaan woon en daarin vir U ’n heiligdom tot eer van u Naam gebou, met die gedagte:

9. As daar oor ons onheil kom — swaard, straf of pes of hongersnood — sal ons voor hierdie huis en voor u aangesig gaan staan; want u Naam is in hierdie huis; en ons sal U aanroep uit ons benoudheid, dat U kan hoor en verlos.

10. En hier is nou die kinders van Ammon en Moab en die mense van die gebergte Seïr, onder wie U Israel nie toegestaan het om te trek by hulle koms uit Egipteland nie; want hulle het van hulle weggedraai en hulle nie verdelg nie.

11. Ja, kyk, hulle vergeld ons dit deur te kom om ons uit u besitting te verdrywe wat U aan ons as ’n eiendom gegee het.

12. Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.

13. En die hele Juda het voor die Here gestaan, ook hulle kinders, hulle vroue en hulle seuns.

14. Toe kom die Gees van die Here in die midde van die vergadering op Jahásiël, die seun van Sagaría, die seun van Benája, die seun van Jeï-el, die seun van Mattánja, die Leviet uit die kinders van Asaf;

15. en hy het gesê: Luister, almal wat uit Juda is en inwoners van Jerusalem en u, koning Jósafat! So sê die Here aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God.

16. Trek môre af teen hulle: kyk, hulle kom op met die hoogte Hassis, en julle sal hulle aantref aan die kant van die dal voor die woestyn Jerúel.

17. Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die Here by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die Here sal met julle wees.

18. Toe buig Jósafat hom met die aangesig na die aarde toe, en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die aangesig van die Here neergeval om die Here te aanbid.

19. En die Leviete uit die kinders van die Kehatiete en uit die kinders van die Koragiete het opgestaan om die Here, die God van Israel, met ’n baie groot stem te prys.

20. Daarop maak hulle die môre vroeg klaar en trek na die woestyn van Tekóa uit; en terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees.

21. En hy het met die volk beraadslaag en tot eer van die Here sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing en by die uittrek op die voorpunt van die gewapendes moes sê: Loof die Here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!

22. En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die Here ’n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20