Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 20:14-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Toe kom die Gees van die Here in die midde van die vergadering op Jahásiël, die seun van Sagaría, die seun van Benája, die seun van Jeï-el, die seun van Mattánja, die Leviet uit die kinders van Asaf;

15. en hy het gesê: Luister, almal wat uit Juda is en inwoners van Jerusalem en u, koning Jósafat! So sê die Here aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God.

16. Trek môre af teen hulle: kyk, hulle kom op met die hoogte Hassis, en julle sal hulle aantref aan die kant van die dal voor die woestyn Jerúel.

17. Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die Here by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die Here sal met julle wees.

18. Toe buig Jósafat hom met die aangesig na die aarde toe, en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die aangesig van die Here neergeval om die Here te aanbid.

19. En die Leviete uit die kinders van die Kehatiete en uit die kinders van die Koragiete het opgestaan om die Here, die God van Israel, met ’n baie groot stem te prys.

20. Daarop maak hulle die môre vroeg klaar en trek na die woestyn van Tekóa uit; en terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees.

21. En hy het met die volk beraadslaag en tot eer van die Here sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing en by die uittrek op die voorpunt van die gewapendes moes sê: Loof die Here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!

22. En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die Here ’n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is.

23. Die kinders van Ammon en Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp.

24. En toe Juda op die wagkop by die woestyn kom en hulle na die menigte kyk, lê hulle daar dood op die grond; en niemand het vrygeraak nie.

25. Daarop het Jósafat en sy manskappe gekom om die buit in te samel en hulle het by hulle ’n menigte goed en klere en kosbare voorwerpe gekry, en het soveel vir hulle gebuit dat hulle dit nie kon wegdra nie; en hulle was drie dae lank besig om die buit in te samel, want dit was groot.

26. En op die vierde dag het hulle in die Lofdal byeengekom, want daar het hulle die Here geloof; daarom het hulle dié plek Lofdal genoem tot vandag toe.

27. Toe draai al die manne van Juda en Jerusalem om, met Jósafat aan hulle hoof, om met vreugde na Jerusalem terug te gaan; want die Here het aan hulle vreugde verskaf oor hul vyande.

28. En hulle het Jerusalem ingetrek met harpe en siters en trompette, na die huis van die Here.

29. En die skrik vir God was op al die koninkryke van die lande toe hulle hoor dat die Here teen die vyande van Israel gestry het.

30. Verder het die koninkryk van Jósafat gerus, en sy God het hom rondom rus verskaf.

31. En Jósafat het oor Juda geregeer; hy was vyf-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en vyf-en-twintig jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Asúba, die dogter van Silhi.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 20