hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

Nahum 2 Die Boodskap (DB)

Nineve gaan onder

1. Nineve, ’n vyand is besig om teen jou op te trek en gaan jou aanval. Sorg dat jou soldate op hulle pos is. Laat van hulle ook die paaie dophou. Wees reg vir die geveg. Laat al jou soldate saamwerk.

2. Toe Israel se vyande hulle destyds besteel en hulle wingerde kaal gestroop het, was dit vir hulle ’n groot vernedering. Maar die Here sal sorg dat ander volke hulle weer met respek sal behandel.

3. Nineve se aanvallers is reg om toe te slaan. ’n Mens kan die spiese in hulle hande baie duidelik sien. Hulle skilde is rooi geverf en hulle dra helder rooi uniforms. Die son blink op die metaal van die oorlogswaens.

4. Die waens dreun en blits heen en weer langs die strate af en ry oor die oop ruimtes. Die aanvallers lyk baie selfversekerd.

5. Die Assiriese koning skree bevele uit aan sy offisiere. Hulle storm na die stadsmuur om hulle verdedigingsplanne te laat werk, maar in die gejaag slaan hulle neer.

6. Dit is egter reeds te laat! Die hekke van die stad is oopgebreek aan die kant waar die rivier is. Daar is niks meer wat die paleis beskerm nie.

7. Dit lyk maar sleg vir hulle. Nineve is rot en kaal gesteel en die mense van die stad word weggevat. Die vroue wat gevang is, was so ontsteld dat hulle geluide gemaak het wat klink soos duiwe wat koer. Hulle het op hulle bors geslaan.

8. Soos die inwoners uit Nineve stroom, loop die stad leeg. Die mense steur hulle nie eens aan die kwaai bevele om om te draai nie.

9. Die invallers moedig mekaar aan: “Vat van die goue en silwergoed, want dit lyk nie of daar ’n tekort is aan enige van die skatte wat ons graag wil hê nie.”

10. Alles wat in die stad gesteel kon word, het hulle gesteel. Die stad is leeggedra. Wat ’n gesig van verwoesting! Die inwoners is in ’n toestand van skok: bleek en bewerig.

11. Die vraag wat ’n mens moet vra, is: Wat gaan nou van Nineve word? Vroeër was die koning soos ’n leeu met Nineve as sy lêplek. Daar het hy saam met sy wyfie rondgeloop en die jong leeutjies kos gegee. Hy het nie eers daaraan gedink dat iets of iemand hulle kwaad sou kon aandoen nie.

12. Die koning was heeltemal in beheer van sake. Hy het gemaak net soos ’n leeu sou maak om sy wyfie en sy kleintjies te versorg. Hy het net soos hy lus was van ander volke gevat wat hy wou hê om vir sy wyfie en kleintjies te gee wat hulle nodig het. Die stad en sy huis was vol van die mense wat hy gevang het en die goed wat hy gesteel het.

13. “Neem kennis,” sê die Here wat groot en magtig is, “Ek is jou vyand! Ek verbrand jou oorlogwaens en laat jou dapper soldate op die slagveld doodgaan. Verder vat Ek alles wat jy op jou veldtogte geroof het van jou af weg. Jou mense wat altyd na jou belange by ander volke kyk, sal dit nie meer doen nie.”