Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 23:7-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Op die eerste dag van die fees moet die hele volk ophou werk en vir ’n heilige byeenkoms bymekaarkom.

8. Op elk van die volgende sewe dae moet die volk ’n vuuroffer vir die Here bring. Op die sewende dag moet die volk weer ophou werk om ’n heilige byeenkoms te hou.”

9. Toe het die Here vir Moses beveel

10. om die volgende instruksies vir die Israeliete te gee: “Wanneer julle in die land bly wat Ek aan julle gee, en julle samel die eerste oes in, bring vir die priester die eerste gerf van die graanoes.

11. Die priester sal dit op die dag ná die Sabbat in die teenwoordigheid van die Here oplig sodat dit ter wille van julle aanvaar kan word.

12. Dieselfde dag moet julle ’n jaaroud skaapram sonder enige liggaamsgebrek as ’n brandoffer vir die Here bring.

13. Dit moet saam met ’n graanoffer gebring word. Dit sal bestaan uit drie kilogram meel gemeng met olyfolie. Dit is ’n vuuroffer vir die Here en baie aangenaam vir Hom. Saam met die offer moet julle ook een liter wyn as ’n drankoffer offer.

14. Op dié dag mag julle nie brood of geroosterde of rou graan eet voordat julle eers die offer vir julle God gebring het nie. Dit is ’n permanente reëling vir julle en moet nagekom word waar julle ook al woon.”

15. “Vanaf die dag ná die Sabbat, die dag waarop die gerf are opgelig is as ’n offer, moet julle sewe weke aftel.

16. Hou aan tel tot die dag ná die sewende Sabbat, dit wil sê, 50 dae later, en bring dan ’n offer van graan wat pas geoes is vir die Here.

17. Bring van julle blyplekke af twee brode saam sodat dit as ’n offer in die teenwoordigheid van die Here opgelig kan word. Hierdie brode moet gebak word van drie kilogram meel wat suurdeeg bevat. Dit sal ’n offer vir die Here wees uit die eerste opbrengs van julle oes.

18. Saam met die brood moet julle ook sewe jaaroud lammers sonder enige liggaamsgebrek, een bul en twee ramme as brandoffers vir die Here bring. Hierdie brandoffers saam met die graanoffers en die drankoffers sal as ’n vuuroffer vir die Here gebring word en sal aangenaam vir Hom wees.

19. Dan moet julle ook een bokram as ’n sonde-offer en twee jaaroud skaapramme as ’n maaltydoffer bring.

20. “Die priester sal hierdie offers in die teenwoordigheid van die Here oplig, saam met die brode wat die eerste opbrengs van julle oes verteenwoordig. Hierdie offers is heilig vir die Here en behoort aan die priesters.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 23