Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 16:21-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Hy moet al twee sy hande op die kop van die bok lê en al die sondes en opstand van die Israeliete daaroor bely. Op dié manier sal hy die volk se sondes op die kop van die bok lê. Dan sal hy die bok die woestyn in jaag, gelei deur iemand wat gekies is vir die taak.

22. Die man moet die bok in die woestyn agterlaat. So sal die bok al die sondes van die volk na ’n afgeleë plek wegdra.

23. “Wanneer Aäron die tent van ontmoeting binnegaan, moet hy al die linneklere uittrek wat hy aangehad het toe hy in die Allerheiligste plek ingegaan het. Hy moet die klere daar laat.

24. Dan moet hy sy hele liggaam op ’n heilige plek met water gaan was, sy gewone priesterklere aantrek, en weer uitgaan om sowel sy eie brandoffer as die brandoffer vir die volk te offer. Op dié manier sal hy versoening doen vir homself en vir die volk.

25. Hy moet ook al die vet van die sonde-offer op die altaar verbrand.

26. “Die man wat gekies is om die bok as sondebok na die woestyn te vat, moet sy klere was en homself in water bad. Dan mag hy terugkeer na die kamp toe.

27. “Die geofferde bul en die bok wat gegee is as sonde-offers, waarvan Aäron die bloed in die Allerheiligste plek ingebring het om versoening vir Israel te doen, moet buite die kamp geneem word om daar verbrand te word. Dit sluit die diere se velle, binnegoed en die mis in.

28. Die man wat dit moet verbrand, moet sy klere was en homself in water was voordat hy na die kamp toe terugkeer.

29. “Op die tiende dag van die sewende maand moet julle vas en geen werk doen nie. Dit is ’n permanente wet vir julle en dit is van toepassing op alle gebore Israeliete en ook vir die vreemdelinge wat tussen julle woon.

30. Op dié dag sal daar versoening vir julle gedoen word en julle sal van al julle sondes voor die Here gereinig word.

31. Dit sal ’n Sabbatdag van totale rus wees en julle sal die dag deurbring deur te vas. Dit is ’n permanente wet vir julle.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 16