Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 22:16-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. “Die volksvergadering van die Here wil by julle hoor hoekom julle so ontrou is aan die God van Israel. Julle het julle rug op die Here gedraai toe julle die altaar gebou het! Julle is mos nou in opstand teen Hom!

17. Was ons oortreding by Peor nie groot genoeg nie? Ons het tot vandag toe nog nie die smet daarvan afgeskud nie, selfs al het die Here die gemeenskap daarvoor gestraf.

18. Julle is nou besig om van Hom af weg te dwaal. Julle kom vandag in opstand teen Hom en net môre is Hy woedend teen ons almal in die gemeenskap van Israel.

19. As julle grond dan besoedel is, moet julle liewer oorkom na die Here se gebied waar die Here in sy tabernakel woon. Kry liewer grond tussen ons, maar moenie in verset kom teen die Here of ons deel maak van julle verset deur ’n ander altaar vir julleself te bou nie. Daar is net een altaar van die Here ons God.

20. Was die Here nie briesend vir die hele gemeenskap van Israel toe Akan, die seun van Serag, ontrou was en van die goed van die banvloek gevat het nie? Hy was nie die enigste een wat deur sy sonde dood is nie.”

21. Die Rubeniete, die Gadiete en die mense van die halwe Manassestam het die hoofde van die familiegroep geantwoord:

22. “Die Here alleen is God, net die Here is God! Hy weet, en laat Israel ook weet dat julle nie vandag ons lewens moet spaar as ons dit uit opstand of met slegte bedoelings teen die Here gebou het nie.

23. Ons het nie die altaar gebou om ons rug op die Here te draai nie. As ons dit gebou het om daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, moet die Here ons straf.

24. Ons het dit gebou omdat ons bekommerd was dat julle nageslag net oormôre vir ons nasate sal sê: ‘Wat het julle met die Here, die God van Israel, te doen?

25. Die Here het die Jordaanrivier as ’n skeiding tussen ons en julle van Ruben en Gad gestel. Julle het nie deel aan die Here nie!’ Julle nageslag sal dan ons nasate keer om die Here te dien.

26. Ons het daarom besluit om vir ons die altaar te bou, nie met die oog op brandoffers of diere-offers nie,

27. maar as herinneringsteken vir ons en vir julle en vir ons nageslagte ná ons, dat ons ook die reg het om die Here by sy heiligdom te gaan aanbid met ons brandoffers, ons ander diere-offers en ons maaltydoffers. Julle nageslag sal nie later vir ons nageslag kan sê: ‘Julle het geen deel aan die Here nie.’

28. Ons het by onsself gedink dat as hulle later so iets vir ons of ons nageslag sou sê, dan kan ons nageslag vir hulle sê: ‘Kyk na die afbeelding van die Here se altaar. Ons voorouers het dit nie vir brandoffers of diere-offers gebou nie, maar as ’n gedenkteken tussen ons en julle.’

29. “Dis glad nie in ons gedagte om teen die Here in opstand te kom of die rug op Hom te draai deur ons eie altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en ander diere-offers nie. Daar is nie ’n ander altaar hiervoor as net die een van die Here ons God wat voor sy tabernakel staan nie.”

30. Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering, die familiehoofde wat by hom was, hoor wat die Rubeniete, Gadiete en mense van Manasse te sê het, was hulle gerusgestel.

31. Pinehas, die seun van die priester Eleasar, het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet vandag dat die Here tussen ons is. Julle was nie ontrou aan die Here soos ons gedink het nie. Julle het die Israeliete uit die hand van die Here gered.”

32. Pinehas, die seun van die priester Eleasar, en die tien leiers het toe teruggekom van die mense van Ruben en Gad in Gilead. Hulle is terug na die ander Israeliete in Kanaän om aan hulle verslag te doen.

Lees volledige hoofstuk Josua 22