Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 44:19-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Die vroue het bygevoeg: “Dit is so, ons het wierook vir die koningin van die hemel gebrand en drank ter wille van haar uitgegooi as ’n offer. Ons het selfs koekies gebak wat haar vorm het. Maar dink jy ons het dit gedoen sonder die medewete en hulp van ons mans?”

20. Nadat hulle Jeremia geantwoord het, het hy aan al die mans en die vroue gesê:

21. “Dink julle die Here het nie geweet wat julle en julle voorouers in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem gedoen het nie? Natuurlik het Hy geweet dat julle en julle voorouers, julle konings en leiers en al die ander mense wierook vir die afgode gebrand het.

22. Die Here kon dit nie langer verduur dat julle hierdie slegte en ver-werplike dinge doen nie; daarom het Hy julle soos ’n vloekwoord gemaak. Dit is ook hoekom julle land vandag ’n bouval is. Dit is ’n verlate plek, sonder enige mense wat daarin woon.

23. Die Here bring hierdie onheil oor julle omdat julle wierook gebrand het. Julle het ook teen die Here gesondig deur aan Hom ongehoorsaam te wees. Hy het vir julle sekere reëls en riglyne gegee waarvolgens julle moes lewe, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.”

24. Jeremia het vir al die mense, die vroue ingesluit, gesê: “Luister na die boodskap van die Here, julle wat in Egipte woon.

25. Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Julle en julle vroue het mos gesê dat julle nooit sal ophou om die godin van die hemel te vereer nie. Dit is duidelik uit alles wat julle sê en doen. Hou by julle beloftes aan haar en doen wat julle gesê het julle gaan doen!

26. “Ek sê weer, luister na die Here se boodskap vir al die Judeërs wat in Egipte woon. Hy sê: ‘Ek het ’n eed afgelê en Ek is so ernstig daaroor dat Ek my Naam en reputasie op die spel plaas. Die mense van Juda wat in Egipte woon, sal my Naam nooit weer gebruik nie. Julle mag nie my Naam gebruik as julle ’n eed neem om krag aan julle woorde te verleen nie. Julle mag nooit weer sê: So waar as die oppermagtige Here lewe nie!

27. Ek sal sorg dat dit met julle sleg gaan. Niks goeds gaan met julle gebeur nie; oorloë en hongersnood sal julle tref. Dit sal aanhou totdat niemand van julle meer in Egipte oor is nie.

28. Net ’n baie klein klompie sal die dood vryspring en uit Egipte na Juda terugkeer. Die groepie Judeërs wat na Egipte gevlug het, sal uitvind wie die waarheid gepraat het en wie nie.

29. “‘Die bewys daarvan sal wees dat alles wat Ek gedreig het om te doen, met julle sal gebeur. Ja, Ek sal julle hier in Egipte straf.

30. Ek gee farao Hofra, koning van Egipte, oor aan sy vyande wat hom wil doodmaak, nes Ek koning Sedekia van Juda oorgegee het aan koning Nebukadnesar van Babel, wat hom wou doodmaak.’ Dit is wat die Here sê!”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 44