Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 40:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee nadat Nebusaradan, hoof van die koning se lyfwagte, hom by Rama vrygelaat het. Hy het Jeremia gekry waar hy geboei gesit het tussen ’n groep gevangenes van Jerusalem en Juda wat in ballingskap op pad was na Babel.

2. Die hoof van die lyfwagte het Jeremia na hom toe laat kom en gesê: “Die Here jou God het bepaal dat onheil hierdie plek sal tref.

3. Dit is presies wat nou gebeur. Die rede hiervoor is omdat hulle teen die Here gesondig het en Hom nie gehoorsaam het nie.

4. Ek gaan nou jou boeie afhaal en dan is jy vry. Jy is welkom om saam met my na Babel toe te gaan. Ek sal goed vir jou sorg. Maar as jy verkies om hier in Jerusalem te bly, is dit ook goed. Jy is nou vry om te gaan net waar jy wil in die land.

5. As jy kies om te bly, gaan dan na Gedalja seun van Agikam, die kleinseun van Safan. Hy is deur die koning van Babel as goewerneur van die dorpe in Juda aangestel. Jy kan daar by hom bly tussen die mense oor wie hy aangestel is. Maar dit is jou keuse, jy kan gaan net waar jy wil.” Nebusaradan het toe vir Jeremia kos en geld gegee. Daarna het hy hom laat gaan.

6. Jeremia het toe na Gedalja in Mispa gegaan. Hy het saam met hom tussen die paar mense van Juda wat in die land agtergebly het, gaan bly.

7. Daar was nog offisiere en soldate van Juda wat in die plattelandse gebiede agtergebly het. Hulle het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja seun van Agikam as goewerneur van Juda aangestel het. Hy moes toesig hou oor die mans, vroue en kinders, die arm mense wat nie uit Juda na Babel weggevoer is nie.

8. Hulle het na Gedalja toe gekom waar hy in Mispa was. Hulle was Ismael seun van Netanja, Joganan en Jonatan, seuns van Kareag, Seraja seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa en Jaäsanja uit Maäka.

9. Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, het die offisiere en hulle manskappe verseker: “Julle hoef nie bang te wees om die Babiloniërs te dien nie. Bly hier in die land en dien die koning van Babel, en dit sal goed gaan met julle.

10. Ek sal hier in Mispa bly en namens julle met die Babiloniërs wat ons kom besoek, onderhandel. Bly in die dorpe wat julle oorgeneem het en oes julle druiwe, vrugte en olywe en stoor dit in houers.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 40