Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 36:18-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Baruk het hulle geantwoord: “Jeremia het vir my presies gesê wat om te skryf, woord vir woord. Ek het dit met ink op die boekrol neergeskryf.”

19. Die amptenare se raad aan Baruk was: “Jy en Jeremia moet liewer iewers gaan wegkruip. Niemand moet weet waar julle is nie!”

20. Die amptenare het die boekrol veilig in Elisama die sekretaris se kantoor weggebêre. Hulle het toe na die paleis toe gegaan en vir die koning alles oorvertel wat hulle gehoor het.

21. Koning Jojakim het Jehudi gestuur om die boekrol te gaan haal. Hy het dit in Elisama se kantoor gaan haal en vir die koning voorgelees terwyl al sy amptenare bygestaan het.

22. Dit was laatherfs. Die koning het in ’n warm deel van die paleis voor die vuur gesit.

23. Baruk het die boekrol in kolomme geskryf. Elke keer as Jehudi drie of vier van hierdie kolomme voorgelees het, het die koning sy mes gebruik om dit uit die boekrol te sny. Hy het deel vir deel in die vuur gegooi. So het hy aangehou totdat hy die hele boekrol verbrand het.

24. Die koning en sy amptenare het geluister na alles wat geskryf was, maar dit het hulle nie banggemaak nie. Hulle het ook nie hulle klere geskeur nie.

25. Selfs nadat Elnatan, Delaja en Gemarja die koning gesmeek het om nie die boek te verbrand nie, wou hy nie luister nie.

26. Hierna het die koning vir sy seun Jeragmeël, Seraja seun van Asriël en ook vir Selemja seun van Abdeël opdrag gegee om Baruk en Jeremia te arresteer. Maar die Here het Baruk en Jeremia weggesteek.

27. Die koning het die boekrol wat Jeremia dikteer en Baruk geskryf het, verbrand. Nadat hy dit gedoen het, het die Here weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

28. “Kry vir jou ’n ander boekrol en skryf weer alles neer wat in die boekrol gestaan het wat Jojakim verbrand het.

29. Sê dan vir koning Jojakim van Juda: Die Here sê: Jy het die boek verbrand, want jy sê: Hoekom het jy daarop geskryf dat die koning van Babel hierdie land gaan verwoes en dat geen mens of dier gaan oorleef nie?

30. “Die Here sê oor Jojakim, die koning van Juda, die volgende: Hy sal nie iemand uit sy familie hê om die koningskap van Dawid voort te sit nie. Hulle sal sy lyk buite weggooi en hom nie begrawe nie. Hy sal so oop lê in die hitte van die dag en in die koue van die nag.

31. Ek sal hom, sy familie en sy amptenare oor hulle sonde straf. Ek sal hulle en die inwoners van Jerusalem en ook al die mense van Juda tref met al die rampe wat Ek beloof het hulle gaan tref. Hulle wou nie na my waarskuwings luister nie!”

32. Jeremia het toe weer ’n papier geneem en vir sy sekretaris Baruk gedikteer wat om te skryf. Hy het alles weer neergeskryf soos dit in die boekrol was wat koning Jojakim verbrand het. Jeremia het egter in hierdie boek nog baie boodskappe soortgelyk aan die ander bygevoeg.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 36