hoofstukke

  1. 1
  2. 2

Ou Testament

Nuwe Testament

Haggai 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Op 29 Augustus, in die tweede jaar wat Darius koning was, het die Here die profeet Haggai gebruik om ’n boodskap aan Serubbabel en Jesua oor te dra. Serubbabel, die seun van Sealtiël, was goewerneur van Juda, en Jesua, die seun van Josadak, was die hoëpriester.

2. “Die Here, die Almagtige, sê: Die mense sê: ‘Die tyd het nog nie aangebreek om die huis van die Here, die tempel, te herbou nie.’”

3. Die Here het toe deur die profeet Haggai die volgende boodskap gestuur:

4. “Hoe kan julle in weelderige huise bly terwyl my huis ’n ruïne is?

5. Die Here, die Almagtige, sê: Dink ’n bietjie na oor hoe sake vir julle staan!

6. Julle het baie aanplantings gedoen, maar die oes was maar skraal. Julle het nou wel kos om te eet, maar julle is nog honger. Julle het wyn om te drink, maar nie genoeg om julle dors te les nie. Julle het klere om aan te trek, maar dit is nie voldoende om julle warm te hou nie. Julle geld raak weg asof dit gebêre is in ’n broeksak met gate!

7. “Die Here, die Almagtige, sê: Dink ’n bietjie na oor hoe sake vir julle staan!

8. Gaan haal hout op die heuwels en begin dan my huis herstel. Dit sal My tevrede stel en Ek sal voel dat julle My eer betoon, sê die Here.

9. Julle het gehoop dat dit ’n goeie oes sal wees, maar dit was maar skraal. Die oes wat julle nog huis toe gebring het, het Ek weggewaai. Waarom? Omdat julle almal besig is om julle eie netjiese huise te bou en dit terwyl my huis in puin lê, sê die Here, die Almagtige.

10. Dit is die rede hoekom daar nie dou uit die hemel kom nie en die aarde nie graan oplewer nie.

11. Ek is verantwoordelik vir die droogte oor die weivelde en die heuwels. Dit is ’n droogte wat die graan, die druiwe, die olywe en al die ander graangewasse beskadig; ’n droogte wat julle en julle vee sal laat honger lei; ’n droogte wat alles waaraan julle so hard gewerk het, tot niet sal laat gaan.”

12. Die profeet Haggai het die boodskap van die Here aan die mense oorgedra. Serubbabel, Jesua en al die mense wat in die land agtergebly het, het die boodskap van die Here hulle God gehoorsaam. Hulle het toe in alle erns die Here begin aanbid.

13. Die Here se boodskapper Haggai het toe hierdie boodskap van die Here vir die mense gebring: “Ek is by julle, sê die Here!”

14. Hierdeur het die Here die goewerneur Serubbabel en die hoëpriester Jesua, asook al die Here se mense wat in die land agtergebly het, baie entoesiasties gemaak. Hulle het na die huis van die Here, die Almagtige, hulle God gekom en daaraan begin werk.

15. Dit was op 21 September, die tweede jaar wat Darius koning was.