Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 1:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierdie dinge het gebeur in die tyd van Ahasveros, wat koning was oor 127 provinsies wat gestrek het van Indië af tot by Etiopië.

2. Die setel van sy regering was in daardie tyd in die vestingstad Susan.

3. In die derde jaar van sy regering het hy ’n onthaal gegee vir al sy hoë amptenare en die ander vooraanstaande persone in sy diens. Die leëroffisiere van Persië en Medië, die vername mense en die goewerneurs van die provinsies was daar.

4. Die fees het 180 dae lank aangehou, terwyl die koning gespog het met die rykdom van sy koninkryk en al die prag en praal daarvan.

5. Na afloop hiervan het die koning almal wat in die vestingstad Susan gebly het, van die belangrikste tot die minste, ’n week lank in die tuin van sy paleis onthaal.

6. Die tuin was versier met wit en bloedrooi gordyne wat met pers linnetoue vas was aan silwerringe aan die marmerpilare. Daar was goue en silwerrusbanke op die plaveisel wat uitgelê was met vier soorte edelstene.

7. Drank is bedien in goue bekers met verskillende ontwerpe. Daar was ’n oorvloed wyn wat die koning voorsien het.

8. Die koning se opdrag was dat elkeen sonder beperking kon drink. Hy het sy paleispersoneel beveel om elkeen se wense te eerbiedig.

9. Koningin Vasti het terselfdertyd ook die vroue in Ahasveros se paleis onthaal.

10. Teen die sewende dag was die koning al goed vrolik van die wyn. Hy het sy sewe persoonlike paleisbeamptes nadergeroep. Hulle was Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas.

11. Hy het hulle aangesê om koningin Vasti met haar koninklike kroon op haar kop na hom toe te laat kom. Hy wou hê al die mense en die hoë amptenare moes sien hoe mooi sy is. Sy was beeldskoon.

12. Toe koningin Vasti by die amptenare hoor wat die koning sê, het sy geweier om te kom. Die koning het baie kwaad geword. Hy het gekook van woede.

13. Hy het met sy verstandige raadgewers gepraat. Hulle het die gebruike en gewoontes, die wet en die reg geken. Die koning het hulle altyd geraadpleeg.

14. Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan was die koning se vertrouelinge. Die sewe mans was hoofamptenare van Persië en Medië wat direkte toegang tot die koning gehad het. Hulle het die hoogste poste in die koninkryk beklee.

15. “Volgens die wet, hoe moet met Vasti gehandel word?” vra hy hulle. “Sy wou nie gehoorsaam wees aan die opdrag wat koning Ahasveros amptelik deur sy paleisbeamptes aan haar gegee het nie.”

16. Memukan sê toe vir die koning en sy hoë amptenare: “Dit is nie net teen die koning alleen wat koningin Vasti oortree het nie, maar tegelykertyd ook teen al die hoë amptenare en al die volke in al die provinsies van die koning.

Lees volledige hoofstuk Ester 1