Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 4:3-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Maar Serubbabel, Jesua en die ander leiers van Israel het geantwoord: “Ons het niks in gemeen met julle nie, julle mag nie deel wees van hierdie projek nie. Koning Kores het ons beveel om die tempel vir die Here, die God van Israel, te bou, en ons sal dit doen.”

4. Die plaaslike bevolking het toe die mense van Juda uit die werk probeer hou deur hulle moed te breek en hulle bang te maak.

5. Hulle het mense omgekoop om hulle te frustreer en hulle planne in die wiele te ry. Tydens die bewind van Kores van Persië het hulle aangehou om so op te tree totdat koning Darius van Persië aan bewind gekom het.

6. In die tyd toe Ahasveros koning geword het, het die teenstanders van Juda ’n brief geskryf waarin hulle die inwoners van Juda en Jerusalem aangekla het.

7. Later, toe koning Artasasta van Persië aan bewind was, het die vyande van Juda onder leiding van Bislam, Mitredat en Tabeël ’n brief in Aramees vir hom gestuur. Dit is vir koning Artasasta vertaal.

8. Die brief is deur die goewerneur Regum en Simsai die sekretaris geskryf met die doel om koning Artasasta oor die omstandighede in Jerusalem in te lig.

9. Rehum die goewerneur en Simsai het die koning namens al hulle medewerkers gegroet. Dit was namens die regters en die plaaslike leiers, die amptenare uit Persië, die Babiloniërs en ook die mense uit Erek en Susan, dit is Elam.

10. Hulle het ook groete oorgedra namens al die mense wat die hoogaangeskrewe en beroemde Asenappar weggevoer en in Samaria hervestig het. Verder ook namens al die mense in die aangrensende lande van die provinsie wes van die Eufraatrivier.

11. Hier is ’n afskrif van die brief wat hulle aan hom gestuur het: “Aan koning Artasasta, van al die lojale onderdane in die provinsie wes van die Eufraatrivier.

12. “Hiermee stel ons U Majesteit in kennis dat die Jode in Jerusalem wat uit Babel na ons teruggekeer het, besig is om daardie opstandige en slegte stad weer op te bou. Hulle het alreeds die fondasies herstel en sal die mure binnekort voltooi.

13. U Majesteit moet egter weet dat as daardie stad eers herbou en die mure voltooi is, die Jode sal weier om enige belasting, heffings of tolgelde te betaal. Dit sal tot nadeel van u ryk se inkomste strek.

14. “Ons is egter as u onderdane aan u lojaal. Omdat ons nie wil sien dat dit u tot oneer strek nie, voorsien ons u van hierdie inligting.

Lees volledige hoofstuk Esra 4