Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 8:6-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. “Mensekind,” het Hy gesê, “sien jy wat hulle doen? Sien jy die afskuwelike groot sondes wat die mense van Israel doen, sondes wat My uit my heilige woning dryf? Maar kom, jy sal selfs nog groter sondes sien as dit.”

7. Toe het Hy my na die deur van die tempel se voorhof geneem. Ek kon daar ’n opening in die muur sien.

8. Hy het vir my gesê: “Mensekind, breek die muur af.” Ek het die muur afgebreek en toe ’n deur na ’n geheime kamer gekry.

9. “Gaan in,” sê Hy vir my. “Gaan kyk na die afskuwelike dinge wat daar binnekant aangaan.”

10. Ek het toe ingegaan. Ek het gesien dat die mure vol kruipende dinge en ander afskuwelike skepsels geteken was. Ek het ook die afgode van Israel gesien wat rondom teen die mure uitgekap is.

11. Daar het 70 leiers van Israel gestaan met Jaäsanja seun van Safan in hulle midde. Elkeen van hulle het ’n wierookbak gehad. Daar het ’n dik wolk wierook bokant hulle koppe gehang.

12. Toe het Hy vir my gesê: “Mensekind, het jy gesien wat die leiers van Israel in die donkerte doen, elkeen by die heiligdom van sy afgod? Hulle sê: ‘Die Here sien ons nie. Die Here is uit die land uit!’”

13. Toe voeg Hy by: “Kom Ek wys jou nog afskuweliker sondes as dié.”

14. Hy het my na die noordelike hek van die Here se heilige woning gebring waar ’n klomp vroue gesit het. Hulle het verlangend na die afgod Tammus geroep.

15. “Het jy dit gesien?” het Hy gevra. “Maar Ek sal jou selfs nog groter sondes as hierdie wys!”

16. Toe bring Hy my na die binneste voorhof van die Here se woning. By die ingang, tussen die voorportaal en die altaar, het 25 mans met hulle rug na die Here se tempel toe gestaan. Hulle het na die oostekant gekyk en voor die son in die ooste neergebuig.

17. “Het jy dit gesien, mensekind?” vra Hy my. “Is dit nie genoeg vir die volk van Israel dat hulle hierdie afskuwelike sondes doen nie? Moet hulle nou ook die land vol geweld maak, en my woede aanhoudend laat losbreek? Kyk hoe hulle nou in afvalligheid van My druiweranke voor hulle neuse rondswaai!

18. Daarom gaan Ek hulle nou in my woede tref. Ek sal hulle nie jammer kry of hulle verskoon nie. En al pleit hulle vir genade, sal Ek nie luister nie.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 8