Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 46:3-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Op Sabbatdae en Nuwemaanfeeste moet gewone burgers die Here by hierdie ingang aanbid.

4. “Elke Sabbat moet die regeerder ’n brandoffer van ses lammers en een ram, almal sonder liggaamsgebreke, aan die Here offer.

5. Hy moet ook ’n graanoffer van sestien kilogram meel saam met die ram bring. Die offer saam met die lammers kan soveel meel wees as wat hy saam met elke lam wil gee. Daar moet vier liter olyfolie by elke sestien kilogram meel wees.

6. By die Nuwemaanfees moet hy ’n jong bul, ses lammers en een ram, almal sonder liggaamsgebreke, bring.

7. Saam met die jong bul en ook saam met die ram moet hy graanoffers van sestien kilogram bring, en saam met die lammers soveel as wat hy kan bekostig. Vir elke sestien kilogram meel moet hy ook vier liter olyfolie offer.

8. “Die regeerder moet deur die voorportaal by die ingang ingaan, en moet ook daar uitgaan.

9. Maar die mense moet deur die noordelike ingang gaan om die Here gedurende die godsdienstige feeste te aanbid, en moet weer uitgaan by die suidelike uitgang. Almal wat by die suidelike ingang ingaan, moet deur die noordelike uitgang uitgaan. Hulle mag nooit uitgaan by dieselfde ingang waar hulle ingegaan het nie. Almal moet by die ander kant uitgaan.

10. “Die regeerder moet saam met die mense by hierdie geleenthede ingaan en uitgaan.

11. “Op feesdae en tydens feestye moet die graanoffer sestien kilogram saam met ’n bul en ’n ram wees, en dié saam met die lammers soveel as wat die persoon wil gee. Vir elke sestien kilogram moet daar ook vier liter olyfolie gebring word.

12. “Wanneer ook al die regeerder ’n vrywillige brandoffer of vrede-offer aan die Here wil bring, moet die oostelike ingang oopgemaak word sodat hy daar ingaan. Hy bring sy offers net soos op Sabbatdae. Dan draai hy om en gaan terug soos hy gekom het. Die ingang moet agter hom gesluit word.

13. “Elke môre moet ’n jaaroud ramlammetjie sonder liggaamsgebrek vir die Here as brandoffer gebring word.

14. Saam met die lam moet daar ook ’n graanoffer van drie kilogram meel gebring word met een en ’n derde liter olyfolie om die meel mee klam te maak. Dit moet ’n vaste instelling wees.

15. Die lam, graanoffer en olyfolie moet elke môre gebring word as ’n daaglikse brandoffer.”

16. “So sê die oppermagtige Here: As die regeerder aan een van sy seuns grond gee, behoort dit aan hom en sy nageslag vir altyd.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 46