Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 40:27-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

27. Reg oorkant die buitenste ingang was nog ’n poort wat na die binneste hof gelei het. Die afstand tussen die binneste en die buitenste poortgeboue aan die suidekant was 50 meter.

28. Daarna het die man my deur die suidelike ingang na die binneste voorhof toe gebring. Hy het dit gemeet en die afmetings was dieselfde as by die ander ingange.

29. Die sykamers, die tussenmure en toegangsportaal in dié gebou was dieselfde grootte as in die ander. Daar was ook vensteropenings langs die mure en in die voorportaal wat 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd was.

30. Elke poortgebou het ’n toegangsportaal gehad wat twaalf en ’n half meter lank en twee en ’n half meter wyd is.

31. Die voorportaal van die suidelike ingang het op die buitenste voorhof uitgekyk. Die mure was met palms versier, en agt trappe het na die ingang gelei.

32. Daarna het die man my na die oostelike ingang van die binneste voorhof gevat. Hy het die poort daar gemeet. Die afmetings was dieselfde as dié van die ander.

33. Die sykamers, die tussenmure en die toegangsportaal in dié gebou het dieselfde afmetings gehad as in die ander. Daar was ook vensteropenings langs die mure en in die voorportaal. Die ingang was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd.

34. Die voorportaal het op die buitenste voorhof uitgekyk. Daar was palmversierings aan die mure aan weerskante, en agt trappe het na die ingang gelei.

35. Daarna het die man my na die noordelike ingang gevat. Hy het dit gemeet, en die afmetings was dieselfde as die ander ingange.

36. Die sykamers, mure en toegangsportaal het dieselfde afmetings as die ander gehad, en daar was ook vensteropenings rondom. Die ingang was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd.

37. Sy voorportaal het op die buitenste voorhof uitgekyk, en daar was versierings van palms aan die mure. Agt trappe het na die ingang gelei.

38. ’n Deur het uit die voorportaal na die binneste ingang aan die noordelike kant gelei, na ’n sykamer waar die vleis vir die offers gewas is voor dit na die altaar geneem is.

39. Aan elke kant van hierdie voorportaal was daar twee tafels waar die offerdiere geslag is vir die brandoffer, sonde-offer en skuldoffer.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 40