Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 34:10-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Die Here sê toe: “Goed, Ek sluit met julle ’n ooreenkoms. Ek sal voor die hele volk wonderlike dinge laat gebeur wat nog nêrens op aarde of voor enige volk gebeur het nie. Al die volke sal sien wat die Here kan doen. Ek sal wonderlike dinge met julle laat gebeur.

11. Sorg dat julle alles doen wat Ek vandag vir julle sê. Ek sal die Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor julle uit die land verdryf.

12. “Maak seker dat jy op geen manier enige ooreenkoms sluit met die mense van hierdie land waarin julle gaan woon nie. As julle dit doen, gaan julle dieselfde dinge as hulle doen.

13. Trouens, julle moet hulle heidense altare afbreek. Trek hulle klippilare om en vernietig hulle afgodsbeelde.

14. Julle mag geen ander god behalwe die Here aanbid nie. Hy is ’n God wat volle getrouheid vereis.

15. “Moenie ooreenkomste sluit met die inwoners nie. Hulle sal julle verlei om saam met hulle agter hulle gode aan te gaan en soos prostitute teenoor My op te tree. Wanneer hulle hulle gode aanbid, sal hulle julle uitnooi om saam met hulle van hulle afgodsoffers te eet.

16. Julle sal julle seuns met hulle dogters laat trou. Wanneer hulle vroue hulle gode aanbid, sal julle seuns agter hulle aangaan en soos prostitute teenoor My optree.

17. Julle mag nooit afgodsbeelde maak om te aanbid nie.

18. “Onthou om gereeld die Fees van die Ongesuurde Brood te hou. Soos Ek vir julle gesê het, moet julle vir sewe dae lank kos eet waarin daar geen suurdeeg gebruik is nie. Julle moet dit elke jaar in die vroeë lente hou. Dit is die tyd toe julle uit Egipte weg is.

19. “Alles wat eerste gebore is en manlik is, behoort aan My. Jou seun of jou bees of skaap wat eerste gebore word, is Myne.

20. Die eerste donkiehings mag met ’n skaap vervang word. As jy dit nie wil omruil nie, moet jy die donkie se nek breek om dit dood te maak. Jou eerste seun wat gebore word, moet ook met geld uitgekoop word. Niemand mag na My toe kom sonder ’n offer nie.

21. “Ses dae lank moet jy besig wees met jou werk. Op die sewende dag moet jy ophou, selfs al is dit planttyd of oestyd.

22. Onthou ook om die Oesfees te hou wanneer die oes begin inkom. Onthou ook die Insamelingsfees aan die einde van die oestyd.

23. Drie keer elke jaar moet al die mans voor die oppermagtige Here, die God van Israel, kom aanbid.

24. Niemand sal julle aanval of julle land probeer afneem terwyl julle van die huis af weg is om die Here te gaan aanbid nie. Ek sal die nasies voor jou uit verdryf. Ek sal jou grond al meer maak.

25. “Daar mag nie suurdeeg wees in die brood wat julle vir My offer nie. Daar mag niks van die vleis van die paaslam gedurende die Paasfees oor wees teen die volgende oggend nie.

26. Julle moet die beste deel van die eerste oes wat jy insamel na die huis van die Here bring.“Jy mag nie ’n boklam offer wat nog nie gespeen is nie.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 34