Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 9:4-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. “Wanneer die Here jou God dit vir jou gedoen het, moet jy nie sê: ‘Die Here het hierdie land gegee omdat ons so regverdig is’ nie. Nee, dit is as gevolg van die goddeloosheid van die ander nasies dat Hy dit gedoen het.

5. Dit is glad nie as gevolg van jou regverdigheid of opregtheid dat jy die land gaan inneem nie. Die Here jou God sal hierdie nasies voor jou uitdryf omdat hulle so goddeloos is en om die eed na te kom wat Hy aan jou voorouers Abraham, Isak en Jakob gesweer het.

6. Ek sal dit weer sê: Die Here jou God gee hierdie goeie land nie aan jou omdat jy so regverdig is nie, want jy is dit nie – jy is ’n hardkoppige volk.”

7. “Onthou en moenie vergeet hoe julle die Here julle God in die woestyn kwaad gemaak het nie. Vanaf die dag dat julle uit Egipte getrek het tot nou toe was julle gedurig teen Hom in opstand.

8. Onthou hoe kwaad julle die Here gemaak het by Sinai. Hy was so kwaad dat Hy julle wou uitroei.

9. Dit was toe ek op die berg was om die plat klippe te ontvang waarop die Here die verbond geskryf het wat Hy met julle gesluit het. Ek was 40 dae en nagte daar sonder om iets te eet of te drink.

10. Die Here het vir my die twee kliptafels gegee wat Hy met sy eie vinger geskryf het. Daarop was alles geskryf wat Hy vir julle uit die vuur gesê het die dag toe julle by die berg bymekaar was.

11. “Aan die einde van die 40 dae en nagte het die Here aan my die twee kliptafels gegee waarop die verbond geskryf was.

12. Die Here het vir my gesê: ‘Klim dadelik af, want die volk wat jy uit Egipte gelei het, het afvallig geword. Hulle het weggedraai van die pad wat Ek hulle beveel het om te loop. Hulle het ’n gegote afgodsbeeld vir hulleself gemaak.’

13. “Die Here het vir my gesê: ‘Ek het gesien hoe ’n hardkoppige volk hierdie is.

14. Moet My nie probeer keer om die volk te vernietig en hulle naam onder die hemel uit te vee nie. Ek sal egter van jou afstammelinge ’n sterk nasie maak, ’n nasie groter en sterker as hulle.’

15. Ek het toe afgekom van die brandende berg met die twee kliptafels van die verbond in my hande.

16. Ek gesien hoe julle daaronder teen die Here julle God gesondig het. Julle het ’n goue bulkalf gemaak. Hoe gou tog het julle nie afgedwaal van die pad wat die Here julle beveel het om te volg nie!

17. Ek het toe die twee kliptafels wat ek in my hande gehad het, voor julle oë flenters gegooi.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 9