Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 9:16-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Here, tree regverdig op en neem weg u vurige woede van u stad Jerusalem, daar waar u tempel is. As gevolg van die sonde en die oortreding van ons voorouers het Jerusalem en u volk ’n bespotting geword in die oë van almal wat rondom ons woon.

17. “Ons God, luister tog na die gebed van u dienaar en sy smeking. Ter wille van Uself, word tog weer goedgesind teenoor u verwoeste tempel, Here.

18. “Spits tog u ore, maak oop u oë, sien ons ellende raak! Kyk hoe lyk die stad wat u Naam dra! Ons vra dit nie omdat ons regverdig is nie, maar ons smeek U omdat U barmhartig is.

19. Here, hoor tog! Here, vergewe ons! Here, luister tog en doen iets daaraan! Moenie nog wag nie, o God, want u stad en u volk dra u Naam.”

20. Ek het aangehou om te bid en my en my volk se sonde te bely. Ek het gepleit by die Here my God, ter wille van sy heilige tempel.

21. Terwyl ek nog besig was om te bid, het Gabriël, wat ek in die eerste visioen gesien het, na my toe gekom. Dit was teen die tyd dat die aandoffer gebring word.

22. Hy het my ingelig en vir my gesê: “Daniël, ek het na jou toe gekom sodat jy insig kan kry en verstaan.

23. Reeds toe jy begin bid het, is ek beveel om te kom en vir jou te verduidelik. Jy is kosbaar vir God. Luister na die verduideliking sodat jy kan verstaan waaroor die visioen gaan.

24. “Tye van 70 eenhede van sewes is vasgestel vir jou volk en vir jou heilige stad om die onregverdige dade tot ’n einde te bring, die oortredings te beëindig, die sonde te versoen, geregtigheid sonder einde te bring, die visioen en die woorde van die profeet te vervul en die Allerheiligste plek ingewy sal word.

25. Weet en verstaan dit: vandat die bevel uitgegaan het om Jerusalem te herstel en te herbou, totdat die gesalfde leier kom, is daar sewe eenhede van sewe en nog 62 eenhede van sewe. Jerusalem sal herstel word en sy strate en watervore sal herbou word onder moeilike omstandighede.

26. Ná die tyd van die 62 eenhede van sewes, sal die gesalfde leier doodgemaak word. Hy sal niks besit nie. Die stad en die tempel sal vernietig word wanneer ’n koning en sy leër daar kom. Sy einde sal met oorstromings kom. Dit is bepaal dat daar oorlog en ellende sal wees tot aan die einde toe.

27. Hy sal met baie ’n ooreenkoms sluit vir ’n tydperk van een eenheid van sewe. Vir ’n halwe eenheid sal hy die praktyk van die offer ophef. Hy sal ’n veragtelike ding oprig wat die tempel verontreinig totdat die tyd aanbreek dat dit wat oor hom bepaal is, oor hom sal losbars.”

Lees volledige hoofstuk Daniël 9