Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 7:14-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Om te heers, het hy ontvang: gesag, eer en mag. Al die volke, nasies en tale sou hom dien. Sy heerskappy is vir altyd. Dit sal nooit verdwyn nie. Sy koninkryk sal nie ophou nie.

15. Ek, Daniël, was ontsteld oor alles wat ek gesien het. Die dinge wat ek gesien het, het my banggemaak.

16. Ek het toe nadergegaan na een van dié wat daar gestaan het. Ek het hom uitgevra oor al hierdie dinge. Hy het gesê hy sal dit vir my verduidelik:

17. “Die vier groot diere is vier konings wat oor die aarde regeer.

18. Die heilige mense van die Allerhoogste sal egter uiteindelik die koninkryk ontvang. Hulle sal regeer vir altyd en ewig.”

19. Ek wou toe duidelikheid hê oor die vierde dier wat soveel anders was as die res. Dit was buitengewoon skrikaanjaend en het met sy ystertande en bronskloue alles verslind en dit wat oorbly onder sy voete vertrap.

20. Ek wou ook weet van die tien horings op sy kop en die klein horinkie waarvoor drie ander horings plek moes maak. Hierdie horing het oë en ’n mond gehad wat gespog het, en het anders as die ander gelyk.

21. Ek het gesien hoe hierdie horing oorlog maak met die heilige mense en hulle oorweldig.

22. Toe het Hy wat ewig lewe gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die mense wat aan die Allerhoogste behoort. Die tyd het toe gekom dat die heilige mense die koningskap oorneem.

23. Hy het vir my gesê: “Die vierde dier is ’n vierde mag wat oor die wêreld sal regeer en wat heeltemal anders is as al die ander ryke. Dit sal die hele aarde wegvreet en daarop trap en dit vermorsel.

24. Die tien horings daaraan is die ryke van tien konings wat sal regeer. Ná hulle sal ’n ander koning kom wat heeltemal van sy voorgangers sal verskil. Hy sal drie konings aan homself onderwerp.

25. Hy sal teen God die Allerhoogste te velde trek en die heilige mense van God die Allerhoogste onderdruk. Hy sal daarop uit wees om die vaste tye en wette te verander. Hulle sal in sy mag kom vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd.

26. Met ’n beslissing van die hof sal sy mag by hom weggevat word en finaal vernietig word.

27. Die heerskappy, regering en aansien van al die koninkryke onder die son sal dan gegee word vir die volk van die heilige mense van God die Allerhoogste. Sy koninkryk is ’n ryk sonder einde. Al die heersers sal dan aan Hom eer bewys en aan Hom gehoorsaam wees.”

28. Hier eindig die saak. Ek, Daniël, was baie ontsteld oor wat in my gedagtes opgekom het. Ek was so bang dat ek bleek geword het, maar ek het die saak vir myself gehou.

Lees volledige hoofstuk Daniël 7