Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 4:20-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Die boom wat u gesien groei en grootword het sodat almal oor die hele wêreld dit kon sien,

21. met sy groen blaredak en sy baie vrugte waarvan almal kon eet, sy skaduwee waaronder al die diere van die veld kon skuil en sy takke waarin die voëls van die lug kon nes maak,

22. is u self. U Majesteit, u het groot en sterk geword. U aansien het hemelhoog geword. U regeer tot by die uithoeke van die aarde.

23. “‘U Majesteit, u het ’n heilige bo-aardse wese gesien wat afkom uit die hemel. Hy het gesê: Kap die boom af! Vernietig dit! Laat staan net sy stam en wortels, met ’n band van yster en koper om, in die grond tussen die gras van die veld! Laat die dou uit die lug op hom kom en laat hy by die diere van die veld bly totdat sewe tydperke verbygegaan het.

24. “‘U Majesteit, die droom beteken dat God die Allerhoogste oor u ’n besluit geneem het.

25. U sal van die mense af weggejaag word en tussen die wilde diere van die veld moet gaan bly. U sal gras eet soos ’n bees en die dou uit die lug sal op u val. Sewe tydperke sal vir u verbygaan totdat u erken dat dit God die Allerhoogste is wat oor die koninkryke van mense regeer en dit gee vir wie Hy wil.

26. Dat hulle gesê het die boomstomp en sy wortels moet in die grond oorbly, beteken dat u u koningskap weer sal terugkry sodra u erken het dat dit die hemele is wat eintlik regeer.

27. “‘O Koning, luister tog na my raad. Breek met u sondes en doen wat reg is. Los u onregverdigheid en sorg vir dié wat behoeftig is. Miskien hou u voorspoed dan nog ’n bietjie langer.’

28. “Dit het presies net so met die koning gegaan.

29. Twaalf maande later het hy op die dak van sy koninklike paleis in Babel rondgeloop.

30. Hy spog toe by homself: ‘Ek het hierdie grote Babel met my eie mag as my koninklike tuiste opgebou om ’n teken te wees van my grootheid!’

31. “Terwyl die koning nog besig was om so te praat, het ’n stem van bo uit die lug gekom: ‘Koning Nebukadnesar, hierdie boodskap is vir jou: Jou koningskap word van jou af weggevat!

32. Jy word van die mense af weggejaag. Jy sal tussen die diere van die veld gaan bly. Jy sal gras eet soos ’n bees. Daar sal vir jou sewe tydperke verbygaan totdat jy erken dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van die mense en dit vir enigeen gee soos Hy wil.’

33. “Die woorde was skaars koud toe dit so gebeur het. Nebukadnesar is van die mense af weggejaag. Hy het gras begin eet soos ’n bees. Die dou het uit die lug op hom geval. Sy hare het so lank geword soos ’n arend se vere en sy naels het soos ’n voël se kloue geword.

34. “Ná hierdie tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, opgekyk boontoe. Ek het weer tot my sinne gekom. Ek het voor God die Allerhoogste gekniel en Hom wat vir altyd lewe, geloof en vereer, want Hy regeer vir altyd en aan sy heerskappy kom daar nooit ’n einde nie.

Lees volledige hoofstuk Daniël 4