Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 2:10-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Die sterrekykers het toe reguit vir die koning gesê: “Daar is nie ’n mens op aarde wat kan doen wat die koning vra nie. Geen koning, hoe sterk en magtig ook al, het al ooit so iets van enige towenaar, besweerder of sterrekyker vereis nie.

11. Wat die koning eis, is onmoontlik. Daar bestaan niemand behalwe die gode wat kan sê wat die koning gedroom het nie. En die gode woon nie tussen mense nie.”

12. Die koning het toe so kwaad geword dat hy opdrag gegee het dat al sy raadgewers in Babel tereggestel moet word.

13. ’n Wet is toe uitgevaardig dat hulle almal doodgemaak moet word. Daniël en sy vriende is ook gesoek om tereggestel te word.

14. Daniël het toe Arjok, hoof van die koning se lyfwag, taktvol en diplomaties genader. Arjok se opdrag was om al die raadgewers in Babel dood te maak.

15. Hy het vir Arjok uitgevra: “Waarom is die opdrag van die koning so onverbiddelik?” Arjok het vir Daniël verduidelik waaroor dit gaan.

16. Daniël het toe dadelik na die koning gegaan en uitstel gevra om die koning se droom te verklaar.

17. Toe is Daniël na sy huis toe waar hy sy vriende Gananja, Misael en Asarja hiervan vertel het.

18. Hy het hulle gevra om saam met hom by die God van die hemel te pleit vir hulp om die geheim van die droom te ontrafel sodat Daniël en sy vriende nie saam met die res van die raadgewers in Babel doodgemaak word nie.

19. Die oplossing van die geheim is in ’n gesig in die nag vir Daniël gegee. Daniël het toe die God van die hemel geloof en gesê:

20. “Loof die Naam van God vir altyd, ja, altyd; aan Hom behoort wysheid en krag;

21. Hy bepaal die gang van wêreldgebeure. Hy sit konings af en stel konings aan; Hy gee wysheid vir dié wat wys isen kennis vir dié wat insig het;

22. Hy openbaar geheimewat diep en weggesteek is; Hy weet wat in die donker gebeur alhoewel daar by Hom lig is.

23. Ek loof en prys U, God van my voorouers.U het my wysheid en krag gegee; U het my ingelig oor wat ons van U gevra het; U het aan my openbaarwat die koning gevra het.”

24. Daniël is toe na Arjok toe wat die opdrag van die koning gehad het om die raadgewers in Babel dood te maak. Hy het vir hom gesê: “Moenie die raadgewers van Babel doodmaak nie. Bring my voor die koning dat ek sy droom vir hom kan uitlê.”

25. Arjok het Daniël toe haastig na die koning toe gevat en vir hom gesê: “Ek het ’n man onder die Judese ballinge gekry wat die koning se droom kan uitlê.”

26. Die koning vra vir Daniël, wat ook as Beltsasar bekend was: “Is dit waar? Kan jy regtig vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken?”

27. Daniël sê toe vir die koning: “Daar is geen raadgewer, besweerder, towenaar of sterrekyker wat die geheim vir die koning kan verklaar nie.

28. Die God van die hemel kan egter geheime verklaar. Hy het vir koning Nebukadnesar bekendgemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. “Die droom wat u gehad het en die gesigte wat u daar op u bed gesien het, is die volgende:

29. U het daar op u bed gelê en dink oor die toekoms. God wat geheime bekendmaak, het u ingelig oor wat gaan gebeur.

Lees volledige hoofstuk Daniël 2