Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 11:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Sedert die eerste regeringsjaar van Darius die Mediër het ek Migael bygestaan en hom ondersteun.

2. Ek gaan nou die waarheid aan jou bekendmaak. Kyk, daar sal nog drie konings oor die Perse regeer. Dan sal daar ’n vierde koning kom wat baie ryker is as hulle almal. Hy sal sy rykdom gebruik om al sterker te word. Hy sal dan almal opsweep teen die koninkryk van die Grieke.

3. “Daarna sal ’n baie sterk koning aan bewind kom wat oor ’n uitgestrekte koninkryk sal heers. Hy sal maak nes hy wil.

4. Op die kruin van sy mag sal sy koninkryk uitmekaarbreek en in die vier windrigtings spat. Dit sal nie na sy nageslag oorgaan nie. Dit sal ook nie langer die mag hê soos voorheen nie. Sy koninkryk sal opgebreek word en in die hande van vreemde mense beland.

5. “’n Koning uit die suide sal sterk word. Een van sy aanvoerders wat sterker as hy sal wees, sal as ’n magtige koning oor sy koninkryk heers.

6. “’n Paar jaar later sal ’n ooreenkoms gesluit word. Die dogter van die koning van die suide sal met die koning van die noorde trou om die ooreenkoms te bevestig. Sy sal egter haar invloed verloor. Die koning self sal ook nie bly regeer nie. Die vrou en dié wat haar na hom gebring het, haar pa en haar ondersteuners, sal in daardie tyd in die steek gelaat word.

7. Een van haar familielede sal met ’n leërmag opruk en die vesting van die koning van die noorde binneval en dit oorrompel.

8. Wanneer hy teruggaan Egipte toe, sal hy gode wat gegiet is en kosbare voorwerpe van silwer en goud as buit saam met hom neem. Hy sal die koning van die noorde vir ’n geruime tyd met rus laat.

9. “Die koning van die noorde sal dan die magsgebied van die koning van die suide inval en daarna weer na sy eie grondgebied teruggaan.

10. Sy seuns sal egter ’n groot leër bymekaarmaak en die suide soos ’n vloedgolf binneval. Hulle sal opruk tot by die suidelike koning se vesting en dit inval. Daarna sal hulle weer na hulle eie grondgebied terugkeer.

11. Die koning van die suide sal dan met ’n groot leër wat hy op die been gebring het, woedend opruk teen die koning van die noorde. Hy sal met hom oorlog maak en hom en sy leërmag oorwin.

Lees volledige hoofstuk Daniël 11