Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 3:16-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Palti het al huilende agter haar aangeloop tot by Bagurim. Toe sê Abner vir hom: “Gaan terug huis toe!” Palti het toe maar so gemaak.

17. Intussen het Abner met die leiers van Israel beraadslaag. “Julle wou mos al vir Dawid koning maak.

18. Die tyd is nou ryp daarvoor, want die Here het gesê: ‘Ek het Dawid my dienaar gekies om my volk Israel van die mag van die Filistyne en die mag van al sy vyande te verlos.’”

19. Abner het ook vertroulik met die leiers van Benjamin gepraat. Daarna het hy na Hebron toe gegaan om vir Dawid vertroulik te sê wat vir Israel en Benjamin aanvaarbaar is.

20. Abner het saam met twintig man in Hebron aangekom, en Dawid het hulle op ’n fees onthaal.

21. Toe sê Abner vir Dawid: “Laat my toe om die hele Israel na u kant toe oor te haal om ’n ooreenkoms met u te sluit sodat u kan heers oor alles wat u hart begeer.” Daarna het Dawid vir Abner ongehinderd laat gaan.

22. Kort nadat Abner ongehinderd daar weg is, kom Joab en Dawid se manskappe met baie buit terug van ’n rooftog.

23. Toe Joab hoor dat Abner die koning besoek het en dat hy ongedeerd daar weg is,

24. haas hy hom na die koning toe. “Wat het u nou gedoen?” vra hy. “Wat het u besiel om Abner te laat wegkom?

25. U weet tog dat Abner seun van Ner, net gekom het om u te mislei en op u doen en late te spioeneer!”

26. Joab is weg van Dawid af en het boodskappers agter Abner aangestuur. Hulle het hom by die put van Sira ingehaal en hom saam met hulle teruggebring. Maar Dawid het niks hiervan geweet nie.

27. Toe Abner terug is by Hebron, neem Joab hom eenkant na die poort toe asof hy vertroulik met hom wou praat. Toe pluk hy sy dolk uit en steek hom in die maag sodat hy sterf. Dit het hy gedoen uit weerwraak omdat Abner sy broer Asael doodgemaak het.

28. Toe Dawid dit agterna eers hoor, sê hy: “Ek en my koninkryk is onskuldig voor die Here oor die bloed van Abner seun van Ner.

29. Mag dit neerkom op die kop van Joab en sy familie. Mag sy familie in elke geslag vervloek wees deurdat hulle nooit sonder iemand sal wees wat bloei of ’n velaandoening het of wat met krukke loop of wat deur die swaard omkom of wat bedel vir kos nie!”

30. So het Joab en sy broer Abisai vir Abner doodgemaak omdat Abner hulle broer Asael in die geveg by Gibeon doodgemaak het.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 3