Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 30:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Koning Hiskia het ’n boodskap aan die hele Israel en Juda gestuur en briewe geskryf aan Efraim en Manasse. Hy het hulle uitgenooi om na die tempel van die Here in Jerusalem te kom en die Paasfees van die Here die God van Israel te vier.

2. Die koning, die leiers en die hele gemeente in Jerusalem het besluit om die Paasfees in die tweede maand te vier.

3. Hulle kon dit nie op die gewone tyd vier nie omdat daar toe nog nie genoeg priesters afgesonder was nie en die volk nog nie in Jerusalem bymekaargekom het nie.

4. Hierdie plan om die Paasfees later te vier, was vir die koning en die hele volk goed.

5. Hulle stuur toe ’n aankondiging deur die hele Israel, van Berseba in die suide tot Dan in die noorde. Hulle het elkeen uitgenooi om na Jerusalem te kom om die Paasfees van die Here die God van Israel te vier. Die volk het dit nie meer in groot getalle gevier soos destyds voorgeskryf was nie.

6. Op bevel van die koning is boodskappers deur die hele Israel en Juda gestuur met briewe van die koning en sy amptenare wat soos volg gelui het:Kinders van Israel, kom terug na die Here die God van Abraham, Isak en Israel sodat Hy weer sal terugkom na die oorblyfsel wat ontsnap het uit die hand van die Assiriese konings.

7. Moenie soos julle voorouers en bloedverwante maak nie. Hulle het die Here die God van hulle voorouers verlaat sodat Hy van hulle ’n voorwerp van afgryse gemaak het, soos julle self kan sien.

8. Moenie koppig wees soos julle voorouers nie, maar onderwerp julle aan die Here. Kom na sy tempel toe, die plek wat Hy vir altyd as heilig afgesonder het. Dien die Here julle God sodat sy toorn van julle afgewend kan word.

9. As julle na die Here toe terugkom, sal julle broers en julle kinders met medelye behandel word deur hulle wat hulle gevange geneem het en hulle sal hulle na hierdie land toe laat terugkom, want die Here julle God is genadig en Hy is julle goedgesind. As julle na Hom toe terugkom, sal Hy nie voortgaan om sy gesig van julle af weg te draai nie.

10. Die boodskappers het van dorp tot dorp deur die hele Efraim en Manasse tot so ver as Sebulon gegaan. Maar die mense het hulle uitgelag en hulle gespot.

11. Sommige uit Aser, Manasse en Sebulon het hulleself verootmoedig en na Jerusalem toe gegaan.

12. Die hand van die God was egter oor die mense van Juda. Hy het hulle ’n eenheidsgevoel gegee sodat hulle die bevele van die koning en sy amptenare as die woord van die Here gehoorsaam het.

13. Gevolglik het ’n groot skare in Jerusalem bymekaargekom om die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood in die tweede maand te vier.

14. Hulle het die heidense altare uit Jerusalem verwyder en die wierookaltare in die Kedronvallei gegooi.

15. Op die veertiende dag van die tweede maand het hulle die paaslam geslag. Die priesters en Leviete het toe skaam geword, hulleself gereinig en brandoffers na die tempel van die Here gebring.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 30