Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 6:16-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. “Moenie bang wees nie!” sê Elisa vir hom. “Daar is meer aan ons kant as aan hulle kant!”

17. Toe bid Elisa: “Here, maak tog sy oë oop sodat hy kan sien!” Die Here het sy dienaar se oë oopgemaak. Toe hy opkyk, sien hy dat daar baie perde en strydwaens van vuur op die heuwels rondom Elisa was.

18. Toe die Aramese leër naderkom, bid Elisa: “Here, slaan hulle tog met blindheid!” Die Here het gedoen soos Elisa gevra het.

19. Elisa sê toe vir hulle: “Julle is op die verkeerde pad! Dis ook nie die regte stad nie! Volg my en ek sal julle neem na die man vir wie julle soek.” So het hy hulle na Samaria toe gelei.

20. Net toe hulle Samaria binnegaan, bid Elisa: “Here, laat hulle weer sien.” Die Here het hulle oë oopgemaak en toe hulle opkyk, is hulle binne-in Samaria!

21. Toe die koning van Israel hulle sien, roep hy vir Elisa: “Moet ek hulle doodmaak, my vader, moet ek hulle doodmaak?”

22. “Natuurlik nie!” sê Elisa vir hom. “Maak jy die krygsgevangenes dood wat jy met jou swaard en boog gevang het? Gee vir hulle kos en iets om te drink sodat hulle kan teruggaan na hulle koning toe.”

23. Die koning het toe ’n groot fees vir hulle voorgesit en hulle toe teruggestuur na hulle koning toe. Daarna het die Aramese plunderaars nie weer die land Israel binnegeval nie.

24. ’n Tyd later het koning Ben-Hadad van Aram egter sy hele leër opgeroep en Samaria beleër.

25. Daar het toe ’n ernstige hongersnood in die stad ontstaan. Na ’n tyd is ’n donkiekop verkoop vir een kilogram silwer, en ’n handjie vol duiwemis vir omtrent 50 gram silwer.

26. Op ’n dag, terwyl die koning op die stadsmuur verbyloop, roep ’n vrou na hom: “Help my tog, my heer die koning!”

27. “As die Here jou nie help nie, wat kan ek dan doen?” antwoord hy. “Ek het geen kos van die dorsvloer of wyn uit die parskuip om vir jou te gee nie.

28. Maar wat is jou probleem?” vra die koning. Sy antwoord: “Hierdie vrou het voorgestel: ‘Gee jou seun dat ons hom vandag kan eet, dan eet ons my seun môre.’

29. Toe het ons my seun gekook en opgeëet. Die volgende dag sê ek: ‘Maak jou seun dood sodat ons hom kan eet,’ maar sy wou nie en het haar seun weggesteek.”

30. Toe die koning dit hoor, skeur hy sy klere van radeloosheid. Soos die koning al met die muur loop, merk die mense dat hy ’n roukleed onder sy klere dra.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 6