Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:7-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Die Here was met Hiskia en hy was suksesvol in alles wat hy gedoen het. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en was nie meer aan hom onderdanig nie.

8. Hy het ook die Filistyne verslaan, of dit buitepos was of vestingstad, en hulle tot so ver as Gasa en sy grondgebied onderwerp.

9. In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia was Hosea seun van Ela in sy sewende regeringsjaar in Israel. In daardie jaar het koning Salmaneser van Assirië Israel aangeval en die stad Samaria beleër.

10. Na drie jaar, gedurende die sesde jaar van koning Hiskia se bewind en die negende jaar van koning Hosea se regering in Israel, is Samaria verower.

11. Die koning van Assirië het al die inwoners van Israel na Assirië toe weggevoer en hulle in Galag, langs die Gaborrivier in Gosan en die stede van die Mediërs hervestig.

12. Dit het gebeur omdat hulle nie geluister het na die Here hulle God nie. Hulle het sy verbond en al die gebooie wat die Here deur sy dienaar Moses gegee het, verbreek. Hulle wou nie daarna luister of dit gehoorsaam nie.

13. In die veertiende jaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië gekom en al die vestingstede van Juda aangeval en verower.

14. Koning Hiskia stuur toe ’n boodskap aan die koning van Assirië in Lakis: “Ek het verkeerd gedoen. Ek sal betaal watter bedrag u eis, as u maar net die aanval sal staak.” Die koning van Assirië eis toe ’n boete van meer as tien ton silwer en omtrent een ton goud van koning Hiskia van Juda.

15. Hy het al die silwer wat in die tempel van die Here en in die skatkamers van die paleis te vind was, gebruik om die boete te betaal.

16. Hy het selfs op daardie tydstip die goud wat hy self aan die deure en die kosyne van die Here se tempel aangebring het, afgestroop en dit alles aan die Assiriese koning gegee.

17. Nogtans het die koning van Assirië sy hoofbevelvoerder, sy hoofamptenaar en sy hoofadjudant met ’n groot leër vanuit Lakis gestuur na koning Hiskia in Jerusalem. Hulle het tot by Jerusalem opgeruk en stelling ingeneem by die kanaal van die boonste dam, naby die pad na die Bleikveld toe.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18