Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:17-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Nogtans het die koning van Assirië sy hoofbevelvoerder, sy hoofamptenaar en sy hoofadjudant met ’n groot leër vanuit Lakis gestuur na koning Hiskia in Jerusalem. Hulle het tot by Jerusalem opgeruk en stelling ingeneem by die kanaal van die boonste dam, naby die pad na die Bleikveld toe.

18. Hulle roep toe na koning Hiskia, maar die koning stuur die volgende beamptes na hulle toe: die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna, en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf.

19. Die hoofadjudant van die Assiriese koning stuur toe hierdie boodskap aan koning Hiskia: “Dit is wat die groot koning van Assirië sê: Waarop vertrou jy dat jy so hoopvol is?

20. Dink jy dat blote woorde weerstand kan bied teen militêre strategie en krag? Op wie vertrou jy dat jy teen my in opstand kom?

21. Is dit op Egipte? Egipte is ’n versplinterde riet wat onder jou gewig breek en ’n gat deur jou hand steek. Dit is wat die farao van Egipte doen met almal wat op hom staatmaak!

22. “Maar dalk sal julle sê: ‘Ons vertrou op die Here ons God!’ Is Hy dan nie die Een vir wie koning Hiskia beledig het nie? Dis mos al sy hoogtes en altare wat Hiskia afgebreek het en beveel het: ‘Elkeen in Juda moet net by hierdie altaar in Jerusalem aanbid!’

23. “Ek sal jou sê! My meester, die koning van Assirië, sal ’n ooreenkoms met jou aangaan: As jy 2 000 ruiters kan voorsien, sal ek jou 2 000 perde gee om op te ry.

24. Hoe sal jy weerstand kan bied teen een afdeling, die swakste van my heer se troepe, selfs met die hulp van Egipte se strydwaens en perderuiters?

25. Wat meer is, dink jy ons het jou land binnegeval sonder die goedkeuring van die Here? Die Here self het vir ons gesê: ‘Trek op en verwoes die land!’”

26. Toe sê Eljakim seun van Gilkija, Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Asseblief, praat met ons in Aramees, want ons verstaan dit goed. Moenie in Judees praat nie, want die verdedigers op die muur sal dit verstaan.”

27. Maar die hoofadjudant antwoord: “Dink julle my koning het my net na julle en julle koning toe gestuur met hierdie boodskap? Nee, die manskappe op die muur moet dit hoor, want hulle sal net soos julle hulle eie ontlasting eet en hulle eie urine drink!”

28. Toe gaan staan hy en skree hard in Judees: “Luister na die boodskap van die groot koning van Assirië!

29. Dit is wat die koning sê: Moenie toelaat dat koning Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie uit my mag red nie.

30. Moenie dat hy julle oorreed om op die Here te vertrou deur te sê: ‘Die Here sal ons beslis red! Hy sal nie toelaat dat hierdie stad in die mag van die koning van Assirië oorgegee word nie.’

31. “Moenie na Hiskia luister nie! Dit is wat die koning van Assirië sê: Maak vrede met my en kom oor na my toe. Dan sal ek toelaat dat elkeen van sy eie wingerdstok en vyeboom eet en uit sy eie put water drink.

32. Dan sal ek kom en julle na ’n ander land soos hierdie een van julle neem. Dis ’n land met koring en wyn, kos en wingerde, olyfbome en heuning. Kies nou die lewe in plaas van die dood!“Moenie na Hiskia luister wanneer hy sê ‘Die Here sal ons red!’ nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18