Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:11-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Die koning van Assirië het al die inwoners van Israel na Assirië toe weggevoer en hulle in Galag, langs die Gaborrivier in Gosan en die stede van die Mediërs hervestig.

12. Dit het gebeur omdat hulle nie geluister het na die Here hulle God nie. Hulle het sy verbond en al die gebooie wat die Here deur sy dienaar Moses gegee het, verbreek. Hulle wou nie daarna luister of dit gehoorsaam nie.

13. In die veertiende jaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië gekom en al die vestingstede van Juda aangeval en verower.

14. Koning Hiskia stuur toe ’n boodskap aan die koning van Assirië in Lakis: “Ek het verkeerd gedoen. Ek sal betaal watter bedrag u eis, as u maar net die aanval sal staak.” Die koning van Assirië eis toe ’n boete van meer as tien ton silwer en omtrent een ton goud van koning Hiskia van Juda.

15. Hy het al die silwer wat in die tempel van die Here en in die skatkamers van die paleis te vind was, gebruik om die boete te betaal.

16. Hy het selfs op daardie tydstip die goud wat hy self aan die deure en die kosyne van die Here se tempel aangebring het, afgestroop en dit alles aan die Assiriese koning gegee.

17. Nogtans het die koning van Assirië sy hoofbevelvoerder, sy hoofamptenaar en sy hoofadjudant met ’n groot leër vanuit Lakis gestuur na koning Hiskia in Jerusalem. Hulle het tot by Jerusalem opgeruk en stelling ingeneem by die kanaal van die boonste dam, naby die pad na die Bleikveld toe.

18. Hulle roep toe na koning Hiskia, maar die koning stuur die volgende beamptes na hulle toe: die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna, en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf.

19. Die hoofadjudant van die Assiriese koning stuur toe hierdie boodskap aan koning Hiskia: “Dit is wat die groot koning van Assirië sê: Waarop vertrou jy dat jy so hoopvol is?

20. Dink jy dat blote woorde weerstand kan bied teen militêre strategie en krag? Op wie vertrou jy dat jy teen my in opstand kom?

21. Is dit op Egipte? Egipte is ’n versplinterde riet wat onder jou gewig breek en ’n gat deur jou hand steek. Dit is wat die farao van Egipte doen met almal wat op hom staatmaak!

22. “Maar dalk sal julle sê: ‘Ons vertrou op die Here ons God!’ Is Hy dan nie die Een vir wie koning Hiskia beledig het nie? Dis mos al sy hoogtes en altare wat Hiskia afgebreek het en beveel het: ‘Elkeen in Juda moet net by hierdie altaar in Jerusalem aanbid!’

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18