Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:10-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Hulle het bo-op elke heuwel en onder elke groen boom klippilare opgerig wat gewy is aan Asjera.

11. Hulle het op al die hoogtes wierook gebrand net soos die nasies wat die Here voor hulle uit verjaag het. Hulle het bose dinge gedoen wat die Here uitgetart het.

12. Hulle het afstootlike beelde aanbid ten spyte van die Here se uitdruklike waarskuwings.

13. Die Here het al sy profete en sieners gestuur om sowel Israel as Juda te waarsku: “Bekeer julle van julle bose lewenswyses. Luister na my opdragte en voorskrifte volgens al die gebooie wat Ek julle voorvaders beveel het en wat Ek deur my dienaars die profete aan julle bekendgemaak het.”

14. Maar die Israeliete wou nie luister nie. Hulle was net so koppig soos hulle voorvaders wat nie op die Here hulle God vertrou het nie.

15. Hulle het sy voorskrifte en sy verbond wat Hy met hulle voorvaders gemaak het, verwerp en die rug gedraai op al sy waarskuwings. Hulle het waardelose afgode aanbid en het self waardeloos geword. Hulle het gelewe net soos die nasies rondom hulle hoewel die Here gesê het: “Moenie soos hulle maak nie!”

16. Hulle het al die gebooie van die Here hulle God geïgnoreer en vir hulle twee kalwerbeelde gegiet. Hulle het ook ’n Asjerabeeld gemaak, voor die hemelliggame gebuig en vir Baäl gedien.

17. Hulle het hulle eie seuns en dogters as offers laat verbrand en waarsêers en toekomsvoorspellers geraadpleeg. Hulle het hulleself oorgegee aan dinge wat vir die Here verkeerd is, en Hom so uitgetart.

18. Die Here was so ontevrede met Israel dat Hy hulle van Hom verstoot het. Net die stam Juda het oorgebly.

19. Maar ook Juda het geweier om die gebooie van die Here hulle God te gehoorsaam. Hulle het volgens die voorbeeld van Israel gelewe.

20. Die Here het toe die hele nageslag van Israel verwerp. Hy het hulle gestraf deur hulle oor te gee aan die plunderaars totdat Hy Israel van Hom af verwyder het.

21. Want toe Hy Israel van die koninkryk van Dawid afgeskeur het, het hulle Jerobeam seun van Nebat koning oor hulle gemaak. Maar Jerobeam het Israel weggelok van die Here af en hulle baie laat sondig.

22. Die Israeliete het volgehou met al die sondes van Jerobeam en dit nie gestaak nie.

23. Uiteindelik het die Here hulle finaal verwyder, net soos Hy deur al sy dienaars die profete gewaarsku het. Israel is uit hulle land weggevoer na Assirië toe, waar hulle vandag nog is.

24. Die koning van Assirië het mense uit Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim verskuif en in die dorpe van Samaria in die plek van die Israeliete laat vestig. Hulle het Samaria oorgeneem en in die stede gaan woon.

25. Omdat hierdie vreemdelinge nie die Here vereer het toe hulle daar aangekom het nie, het die Here leeus gestuur wat sommige van hulle doodgemaak het.

26. Daarom stuur hulle toe ’n boodskap na die koning van Assirië: “Die nasies wat u in die dorpe van Samaria hervestig het, weet nie hoe om die God van die land te aanbid nie. Hy het leeus onder hulle losgelaat wat hulle doodmaak omdat hulle nie weet hoe hulle Hom moet vereer nie.”

27. Die koning van Assirië beveel toe: “Stuur een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is daarheen terug. Hy moet daar gaan woon en die nuwe inwoners leer aangaande die godsdienstige gebruike ter ere van die God van die land.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17