Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 19:9-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Die Ammoniete se soldate het hulle in slagorde opgestel by die poort van die stad terwyl die ander konings hulleself in die oop veld opgestel het vir die geveg.

10. Joab het gesien dat hy aan twee kante sal moet veg. Toe kies hy die beste soldate in sy leër en laat hulle onder hom veg. Hy het hulle uitgelei om teen die Arameërs in die oop veld te gaan veg.

11. Die res van die leër het hy onder die bevel van sy broer Abisai gesit, en hulle moes die Ammoniete aanval.

12. Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk word, kom dan oor en help my. En as die Ammoniete vir jou te sterk word, sal ek jou kom help.

13. Wees vol moed! Laat ons ons krag gebruik om te veg vir ons volk en die stede van ons God. Mag die Here doen wat Hy wil!”

14. Toe Joab en sy soldate aanval, het die Arameërs begin weghardloop.

15. En toe die Ammoniete sien die Arameërs hardloop weg, het hulle ook voor Abisai, sy broer, weggehardloop en in die stad gaan wegkruip. Joab het teruggegaan Jerusalem toe.

16. Die Arameërs het nou besef dat Israel hulle behoorlik verslaan het. Toe het hulle weer ambassadeurs gestuur en nog meer Aramese soldate van oorkant die Eufraat gaan huur. Hierdie soldate was onder leiding van Sobak, die hoof van Hadad-Eser se weermag.

17. Dawid het gehoor wat gebeur het, en hy het die hele Israel gemobiliseer. Hulle het deur die Jordaan getrek en hy het sy soldate in gevegsformasie opgestel. Hy het die Aramese soldate begin aanval, en hulle het teen hom geveg.

18. Weereens het die Arameërs voor die Israeliete gevlug. Hierdie keer het Dawid se soldate 7 000 trekperde en 40 000 soldate doodgemaak, insluitende Sobak, die hoof van die weermag.

19. Toe die amptenare van Hadad-Eser besef dat Israel hulle verslaan het, het hulle hulle aan Dawid oorgegee en sy onderdane geword. Hierna was die Arameërs nie weer bereid om die Ammoniete te help nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 19