Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20:25-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

25. U moet self weer ’n leër op die been kry soos die een wat verslaan is. Laat daar net soveel perderuiters, strydwaens en manne wees soos voorheen. Dan pak ons hulle op die vlaktes. Daar is geen twyfel dat ons hulle dan sal verslaan nie.” Koning Ben-Hadad het toe gemaak soos hulle voorgestel het.

26. Die volgende jaar het hy die Aramese leër opgeroep en na Afek opgetrek om teen Israel te veg.

27. Israel het hulle leër opgeroep en goed voorbereid teen die vyand opgetrek. Die Israeliete het teenoor die Arameërs kamp opgeslaan. Hulle het egter soos twee troppe bokke gelyk in vergelyking met die groot Aramese mag wat oor die vlakte verspreid was.

28. Die man van God het weer na die koning van Israel gegaan en gesê: “Dit is wat die Here sê: ‘Die Arameërs het gesê die Here is ’n berggod en nie ’n god van die vlaktes nie. Daarom gee Ek hierdie groot leër oor in julle mag. Dan sal julle erken dat Ek die Here is.’”

29. Die twee leërs het sewe dae lank so teenoor mekaar opgestel gestaan. Op die sewende dag het die geveg uitgebreek. Die Israeliete het 100 000 Aramese voetsoldate op een dag doodgemaak.

30. Die res het na die stad Afek gevlug. Toe val die muur om op 27 000 man. Ben-Hadad het die stad in gevlug en van huis tot huis weggekruip.

31. Ben-Hadad se offisiere sê toe vir hom: “Ons het gehoor die konings van Israel is baie genadig. Kom ons trek rouklere aan en maak toue om ons koppe vas. Dan gee ons ons oor aan die koning van Israel. Miskien sal hy u lewe spaar.”

32. Hulle trek toe rouklere aan en sit toue om hulle koppe. So het hulle na die koning van Israel gegaan en hom gesmeek: “U dienaar Ben-Hadad sê: ‘Laat my asseblief lewe!’”Die koning van Israel antwoord: “Lewe hy nog? Hy is my broer!”

33. Die boodskappers het gou na hierdie strooihalm van hoop gegryp, en geantwoord: “Ja, Ben-Hadad ís u broer!”“Gaan haal hom dan,” sê die koning van Israel. Toe Ben-Hadad daar kom, het Agab hom genooi om op sy strydwa te klim.

34. Ben-Hadad sê vir hom: “Ek sal al die dorpe wat my pa van jou pa afgevat het, teruggee. Jy kan ook ’n handelsbuurt in Damaskus inrig soos my pa in Samaria gedoen het.”Agab sê toe: “As jy ’n ooreenkoms met my sluit, sal ek jou vrylaat.” Hulle het toe ’n ooreenkoms aangegaan en hy het Ben-Hadad laat gaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 20