Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:10-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. So seker as die Here u God leef, die koning het by elke nasie en koninkryk op aarde na u laat soek. Elke keer as hy hoor ‘Elia is nie hier nie,’ het Agab die koning van daardie volk met ’n eed laat bevestig dat dit inderdaad so is.

11. En nou sê u vir my: ‘Gaan sê vir die koning Elia is hier!’

12. Dit kan wees dat as ek van u weggaan die Gees van die Here u dalk kan wegvoer na wie weet waar. As ek dan vir Agab vertel ek het u gesien, maar hy kry u nie, sal hy my doodmaak. En dit ten spyte daarvan dat ek my lewe lank ’n getroue volgeling van die Here is!

13. Het niemand vir u vertel van die keer toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het nie? Ek het toe 100 van hulle in twee groepe van 50 in elkeen van twee grotte weggesteek en hulle van kos en water voorsien.

14. En nou sê u vir my: ‘Gaan en sê vir die koning Elia is hier!’ Hy sal my mos doodmaak!”

15. Maar Elia antwoord hom: “So seker as die Here, die Almagtige, leef, in wie se diens ek staan, Agab sal my sekerlik vandag nog sien.”

16. Obadja het toe gegaan en vir Agab vertel dat Elia gekom het. Agab het toe vir Elia gaan ontmoet.

17. “Is dit jy, jou moeilikheidmaker in Israel?” vra Agab toe hy hom sien.

18. “Ek het geen moeilikheid vir Israel gemaak nie,” antwoord Elia. “Jy en jou familie is die moeilikheidmakers, want julle het nie die gebooie van die Here gehoorsaam nie en eerder die Baäls aanbid.

19. Maar laat die volk van Israel op Karmelberg bymekaarkom. Ook die 450 profete van Baäl en die 400 profete van Asjera wat Isebel onderhou, moet daar wees.”

20. Agab het toe gestuur en die hele volk en die profete op Karmelberg bymekaar laat kom.

21. Elia het voor hulle gaan staan en gesê: “Hoe lank gaan julle nog weier om kant te kies? As die Here God is, volg Hom! Maar as dit Baäl is, volg hóm!” Die volk het egter niks geantwoord nie.

22. Toe sê Elia vir die volk: “Ek is die enigste profeet van die Here wat nog oor is, terwyl daar 450 profete van Baäl is.

23. Bring nou twee bulle. Die profete van Baäl kan een kies, hom in stukke opsny en bo-op die hout op die altaar neersit. Hulle moet dit egter nie aan die brand steek nie. Ek sal die ander bul opsny en bo-op die hout op die altaar neersit. Ek sal dit ook nie aan die brand steek nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18