Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 1:36-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

36. “Laat dit so wees!” antwoord Benaja seun van Jojada. “En mag die Here u God dit ook bevestig.

37. Mag die Here by Salomo wees soos Hy by u was, en mag Hy die regering van Salomo selfs groter maak as u regering!”

38. Sadok die priester, Natan die profeet, Benaja seun van Jojada en die koning se lyfwag het Salomo na die Gihonspruit toe geneem. Hy het op Dawid se muil gery.

39. Sadok die priester het ’n horing vol olie uit die heiligdom saamgeneem en Salomo daarmee gesalf. Toe blaas hulle op die ramshoring en al die mense roep uit: “Lank lewe koning Salomo!”

40. Almal het agter Salomo aan teruggegaan stad toe terwyl hulle op fluite speel en juig dat die aarde dreun.

41. Adonia en sy gaste was net besig om klaar te maak met hulle feesmaal toe hulle die groot feesvierings hoor. Toe Joab die ramshoring hoor, vra hy: “Wat gaan aan? Hoekom is daar so ’n lawaai in die stad?”

42. Terwyl hy nog praat, kom Jonatan seun van Abjatar daar aan. “Kom nader,” sê Adonia vir hom, “want jy is ’n gerekende man en bring goeie tyding.”

43. “Glad nie!” antwoord Jonatan. “Koning Dawid het Salomo koning gemaak!

44. Die koning het hom saam met Sadok die priester, Natan die profeet en Benaja seun van Jojada, en die koning se lyfwag gestuur. Hulle het hom op die koning se muil laat ry,

45. en Sadok die priester en Natan die profeet het hom by die Gihonspruit tot koning gesalf. Hulle het daarvandaan met groot gejuig teruggekom en daar is groot blydskap in die stad. Dis waaroor al die geraas gaan.

46. Salomo sit nou op die troon.

47. Al die koninklike amptenare het na koning Dawid toe gegaan en hom gelukgewens en gesê: ‘Mag u God Salomo se roem selfs nog groter maak as u eie. Mag Salomo se koninkryk selfs groter wees as u koninkryk!’ Toe het die koning op sy bed sy kop in aanbidding gebuig.

48. Hy het gesê: ‘Prys die Here, die God van Israel, wat vandag iemand gegee het om op my troon te sit terwyl ek dit met my eie oë kan sien.’”

49. Toe het al Adonia se gaste in paniek van die feesmaal opgespring en elkeen sy koers gegaan.

50. Adonia self was bang vir Salomo. Hy het na die heiligdom toe gegaan en die horings van die altaar vasgegryp.

51. Dis aan Salomo meegedeel: “Adonia is bang vir koning Salomo, en hy hou aan die horings van die altaar vas. Hy pleit: ‘Laat koning Salomo vandag nog onder eed verklaar dat hy my nie sal doodmaak nie!’”

52. Salomo het geantwoord: “As hy bewys lewer dat hy betroubaar is, sal hy niks oorkom nie. Maar as hy dit nie doen nie, sal hy sterf.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 1